Veiling van verskalf samel ‘n moeeeewiese bedrag in

0
409
Nicolene Hobson, Kyra Burger en Mandi Venter by die veiling waar die vers wat deur die Hobson-gesin geskenk is vir Kyra se behandeling teen 'n rekordbedrag verkoop is.

Klein Kyra Burger van Bloemfontein is nog ‘n stappie nader aan die immuniteitsterapie waaroor haar ouers droom. Om hierdie behandeling te ondergaan, moet die kankervegtertjie oorsee geneem word.

Daar is onlangs ‘n veiling in Excelsior in die Vrystaat gehou as nog ‘n fondsinsamelingsprojek vir Kyra se behandeling. Die veiling was ‘n reusesukses en volgens Mandi Venter, Kyra se ma, was dit ‘n belewenis en iets wat sy nie sommer sal vergeet nie.

Die vers wat die Hobson-gesin vir klein Kyra geskenk het om opgeveil te word.

“Dit was n ongelooflike ervaring, ons was spraakloos.” Sy verduidelik dat die Hobson-gesin in die begin van die jaar Kyra se storie begin volg het en besluit het om vir haar ‘n vers te skenk. Daar is toe later besluit dat die vers opgeveil sal word. “Die Hobsons het regtig harte van goud en ek weet nie hoe ek hul ooit sal kan bedank nie,” sê Venter.

Sy vertel hoedat sy en haar ouers absoluut geen verwagtinge gehad nie. Die eerste bod wat op die vers toegeslaan is, was vir R18 000. Vir Venter was dit ‘n wonderlike geskenk tot die boer die vers weer laat opveil het. So is dit sewe keer opgeveil en kon hulle wegstap met R110 000. “Regdeur die veiling het trane van dankbaarheid geloop, want dink net, die mense by die veiling het ons glad nie geken nie, maar hulle almal het hul harte en arms vir ons oopgemaak.”

Venter het aan Bloemfontein Courant gesê dat hoewel hulle nog ver van die bedrag is waar hul moet wees, is hulle so dankbaar vir al die mense wat die Here oor hul pad laat kom het. Elkeen van hierdie mense maak ‘n verskil in klein Kyra se lewe.

Venter sê ook dat haar kind altyd haar eerste prioriteit sal wees. Sy wil ook bewustheid skep vir kinders met kanker en alles wat sulke kinders se gesinne moet deurmaak. “Omdat September ‘n maand van kinderkankerbewustheid is, sal daar baie fondseinsamelingsgeleenthede wees vir Kyra,” sê sy.

Caroline-Grace gaan Vrydagaand vir Kyra sing in die Tweespruit NG Kerksaal. Vir meer inligting, kontak Charlene by 076-594-8588 of Liezel by 082-823-3395. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za