Vegter soos min en korrel raak

0
Vegter soos min en korrel raak

GEORG VAN ECK

Sy is ’n vegter, kan haar man staan in ’n manswêreld en is die 2012 Vrystaatse praktiese pistoolskietkampioen.
Rika Nel dra wel ’n wit T-hemp met pienk simbole op, maar moet haar geensins onderskat nie, want die pienk dui daarop dat sy haar stryd teen borskanker gewen het.  In haar stryd om ten volle te herstel ná die skok van ’n mastektomie en die verwydering van limfkliere asook uitmergelende chemo-behandeling en bestraling het sy besluit om ’n jaar gelede saam met haar man, Jury, aan praktiese pistoolskiet te begin deelneem.

“Ons is reeds 14 jaar getroud en Jury neem reeds 20 jaar aan praktiese skiet deel. Ek het hom gereeld vergesel en ondersteun omdat ek glo dit is ’n vrou se plig om dit te doen.  “Daarom het ek besluit om te begin skiet,” vertel die vriendelike skut, wat saam met haar man hul eie onderneming bedryf.  Deesdae is Rika die skut en Jury die ondersteuner. “Die dokters het alles gedoen wat hulle moes, maar dit het veggees van Rika geneem om te herstel. Dit het ook harde werk, toewyding en doelgerigtheid geverg om bo in praktiese pristoolskiet te kom,” vertel Jury trots.

Rika skiet ook nie ’n kleinkaliber-pistool nie. Sy skiet met ’n Glock-pistool wat gewoonlik 9mm-ammunisie gebruik, maar in Rika se geval skiet sy met Smith & Wesson 40-ammunisie wat die moeilikheidsgraad van die klas, waarin sy teen ander skuts (mans en vroue) meeding, aansienlik hoër maak. Maklik is dit nie, want haar regterhard, haar skiet hand, swel wanneer sy deelneem. Sy moet gereeld massering by die Universitas-hospitaal by suster Strauss kry om die swelsel te laat sak.

Sy kry masserings selfs wanneer sy nie skiet nie. Sy moes hard oefen, want die lengte van bane wissel. Sy skiet na teikens op verskillende afstande. Die spoed waarmee geskiet word, is ook ’n faktor wat bereken word. Daarom moet sy gereeld op die baan gaan skiet, maar sy oefen ook sonder ammunisie (dry run) die verskillende oefeninge (drills). “Om ’n pistool vinnig uit die skede te kry en op die teiken gerig te kry, moet oor en oor geoefen word.  “Soms doen ek dit terwyl ek kosmaak. Jury het vir my ’n groot foto met die teikens van die baan geneem en in die huis opgesit het. Dit is interessanter, want om elke keer net na ’n gewone teiken teen ’n muur te mik, is vervelig,” verduidelik Rika.

Sy was aanvanklik die enigste vrou wat vir die Bloemfontein Praktiese Skietklub geskiet het, maar nou is daar al ’n paar ander vroue wat ook skiet. Daar is vyf klubs in die Vrystaat by De Brug (Weermag), Harmonie in Virginia, Excaliber in Welkom en Wolwehoek by Sasolburg wat onderling meeding.  Rika se volgende mikpunt is om ook op nasionale vlak te presteer. Hou haar maar dop. Sy het gewys sy is ’n vegter wat raak kan korrel.

No posts to display