Veganistiese troue n eerste vir baie

0
483
Robert Kot en sy bruid, Leona, op hul troudag op Saterdag 18 September. PHOTOS: MM PHOTOGRAPHY

Spyseniering is werklik een van die belangrikste aspekte met die beplanning van ‘n troue, maar wat gebeur as jy ‘n veganistiese fees op jou groot dag wil hê?

Bloemfonteiner Robert Kot en sy bruid, Leona, het op Saterdag 18 September afgehaak en besluit om hul gaste te trakteer op ‘n volle veganistiese spyskaart. Volgens die twee wou hulle van hul gunstelinggeregte deel met die mense vir wie hulle lief is, en natuurlik, terselfdertyd hul oë laat rek met iets nuuts wat aan hulle voorgesit word.

Volgens Leona was die terugvoer van haar gaste se kant af goed. “Sommige was aangenaam verras, ander het ‘n tjoppiegrap gemaak. Alles in goeie gees. Ek dink die veganistiese wortelkoek was die mees gekomplimenteerde item van die dag en het byna ‘n paar gaste ‘bekeer’ tot veganisme.”

Uit die verskeidenheid geregte was daar varsgebakte brood, hummus-smeer, veganistiese “hoender-nuggets”, vrugte, neute en nog meer.

Leona vertel dat dit nie vir hulle ‘n moeilike besluit was nie, want hulle het geweet dat die mense wat na hul troue toe genooi is, hulle liefhet en die ervaring sou waardeer. “Veganistiese kos is ‘n deel van wie ons is, al is dit nie iets wat baie in die Vrystaat gedoen word nie,” het Robert beaam.

Robert en Leona het deur die toedoen van ‘n vriend tydens ‘n kerkdiens ontmoet aan die begin van die inperking. Hulle is albei mal oor ‘n gesonde leefstyl en gesonde kos.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za