Die Mangaung-metro se brandweer en reddingsdiens het opnuut ‘n waarskuwing aan mense gerig om ten alle tye veilig te wees wanneer hulle van oop vure in hul huise in informele nedersettings maak.
Afdelingsoffisier, Braam van Zyl, sê die brandweer word daagliks ontbied na plakkershutte waar daar ‘n brand ontstaan het. Hy sê mense sterf weekliks of doen ernstige brandwonde op in dié tipe brande.
Volgens hom onstaan brande in plakkershutte in baie gevalle wanneer mense kerse aansteek of paraffien en gas vir stofies of verwarmers gebruik. Nalatigheid speel ook ‘n rol, terwyl onwettige kragaansluitings ook ‘n probleem is.
Van Zyl vra mense om eersten hul eie veiligheid in ag te neem wanneer hulle in ‘n brand vasgekeer is .
Hulle moet so gou moontlik uit ‘n brandende plakkershut kom. Hy sê in baie gevalle sluit mense hulself toe in so ‘n mate dat hulle nie vinnig genoeg kan ontsnap nie. Bystanders kan ook nie vinnig toegang to brandende plakkershutte verkry nie.
Van Zyl se versoek kom nadat ‘n man Saterdag in ‘n plakkershut in Thabong, Welkom, dood is toe dit aan die brand geslaan het. Drie ander mans kon daarin slaag om veilig uit te kom, terwyl Envor Solomon van Lesotho, nie so gelukkig was nie.
Een van die mans het vroeër die aand ‘n gasstofie aangesteek om pap te maak. Hulle het vermoedelik aan die slaap geraak en het later in die vlamme en rook wakkergeskrik.
Netcare 911 het gister gesê vyf mense is Saterdagnag in ‘n plakkerskamp in Plastic View in Pretoria dood to ‘n brand verskeie plakkershutte verwoes het. Talle mense is dakloos gelaat. Sowat 30 plakkershutte is ook in Durban oor die naweek verwoes. Niemand is in dié brand dood nie en geen beserings is aangemeld nie. – Christal-Lize Muller