Veelsydige Ellandi en Dewan looi ‘n gholfbal

0
2717
Twee van Bloemfontein se bobaas-gholfspelers onder die jongspan, Ellandi van Heerden (regs), en Dewan de Bruin is eersdaags op pad om hul staal op 'n toernooi in die VSA te gaan toon. Saam met hulle is die bekende afrigter, Corné Viljoen, wat dié twee opkomende sterre brei. FOTO: ELRICA VAN HEERDEN

Corné Viljoen, afrigter van die wêreldklas-gholfspeler en Bloemfonteiner, Dean Burmester, is ‘n opgewonde man, maar dit is nie slegs oor die skitterende prestasies van Burmester die afgelope tyd nie. Hierdie befaamde afrigter is baie opgewonde oor twee van sy jong gholfspelers, Ellandi van Heerden (Laerskool Eunice) en Dewan de Bruin (St Andrews).

Courant het met Viljoen gesels: “Hierdie twee jongelinge (Van Heerden en De Bruin) is uitstekend. Trouens, hulle is wêreldklas vir hul ouderdom. Daar is volgens my tans ses jong gholfspelers wat, indien hulle tot matriek voortbou op hul huidige spel, dieselfde gehalte golf in die toekoms kan speel as Dean, en Van Heerden en De Bruin is vir seker twee van hulle.”

Viljoen was in sy noppies oor Van Heerden (9 jaar) en De Bruin (8 jaar) se vertonings dié naweek in Kroonstad: “Dewan het ‘n rondte van 73 gespeel en Ellandi 79. Wat Ellandi se vertoning nóg beter maak, is dat sy saam met die seuns van hul bowwe afgeslaan het en nie die korter putjies vir meisies gespeel het nie. Hulle het puik gespeel, veral in ag genome dat die rof (terrein) werklik ‘wild’ was.”

Van Heerden het op die ouderdom van sewe begin golf speel onder die wakende oog van Viljoen, en vinnig opgang gemaak. Sy het op 8-jarige ouderdom Vrystaat-erekleure verwerf in ‘n span wat slegs uit seuns bestaan het in die onder 11-ouderdomsgroep.

Haar groot deurbraak het verlede jaar gekom toe sy in Augustus op die San Lameer Afrika junior- ope toernooi met die titel vir meisies onder 9 weggestap het.

Buiten die heelparty puik toernooie waaraan sy deelgeneem het en die eerbewyse wat sy ontvang het, het Van Heerden onlangs in die afdeling vir meisies onder 10 ‘n toernooi in Huddlepark, Linksfield (Johannesburg), gewen. Dié skitterende vertoning het tot gevolg gehad dat sy vir die wêreldtoer na die VSA gekwalifiseer het. Die toernooi vind Juliemaand in Kalifornië plaas.

Van Heerden (26-voorgee) se pa, Bertus, is haar joggie en bedien haar met goeie raad, want dié man speel self van ‘n 12-voorgee af. En dan is dié gholfkampioen wat eendag beroepspeler wil word, boonop veelsydig ook. Sy speel skaak en klavier, swem (interprimêr) en verteenwoordig haar skool se wiskundeklub.

Op sy beurt speel De Bruin twee jaar kompeterende gholf en sy opgang spreek boekdele. Hy het óók onlangs gekwalifiseer om oorsee te speel en gaan self sy stokke op die wêreld- junior kampioenskap in Kalifornië (VSA) swaai in Julie.

Om vir hierdie toernooi te kwalifiseer, het De Bruin puik gholf opgedis toe hy deelgeneem het aan die US World Championship Qualifier (2017) wat plaasgevind het op die einste Huddle Park, Linksfield, Johannesburg. Hier het hy tweede in sy ouderdomsgroep (seuns onder-8) geëindig. Hy het ook onlangs in Welkom eerste geëindig op die 2017 Goldfields junior- ope toernooi vir seuns onder 11. De Bruin se belangstelling is nie slegs gholf nie. Hy speel graag vir St Andrew se onder 9-span krieket en hokkie.
info@bloemfonteincourant.co.za