VCSV word 123 jaar oud

0
173
Leerders van Welkom Volkskool wat deel is van die VCSV

Die Verenigende Christen Studentevereniging het op 28 Julie 123 jaar oud geword. “Honderd drie en twinting jaar gelede het God ‘n droom in iemand se hart geplaas en daardie droom leef vandag steeds voort,” sê Lulu van der Berg, provinsiale hoof van die VCSV in die Vrystaat.

Van der Berg het aan Bloemfontein Courant genoem hoe ‘n groot voorreg dit is om deel te wees van daardie droom en te sien hoe God daagliks mense se lewens aanraak en verander. “As mens dink aan VCSV, dan dink jy aan ‘n kamp en ook die heerlike dinge wat met ‘n kamp gepaard gaan, maar die belangrikste is dat mens nie anders kan as om te dink hoedat mense se lewens aangeraak word deur die VCSV nie,” sê hy.

Op 24 Augustus hou die VCSV ‘n feesdag op die VCSV Retiefkampterrein net langs Maselspoort. Hulle wil graag almal uitnooi om saam te kuier en fees te vier. Toegang is R20 per person en leerders en kinders onder 12 betaal slegs R10. Daar gaan heerlike kosstalletjies, verskeie aktiwiteite en ‘n wonderlike program wees.

Die hekke sal van 08:00 af oop wees en die program duur van 09:00 tot 16:00. Saam met die feesdag het VCSV ook ‘n blikkieprojek waar die groep skole, kerke, besighede en individue uitdaag om R123 te skenk vir die VCSV. Met hierdie bydraes kan die groepe kinders bedien met die Woord, kampe hou en vele meer.

“Wees deel van die droom en skenk vandag jou R123 en dank God saam met ons vir soveel genadejare.”

Vir enige navrae en inligting kan Lulu van der Berg gekontak word by 082-959-4547 of lulu@vcsv.co.za

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za