VCSV vier 124 ‘genadejare’

0
137
Dis kamptyd op die Retiefkampterrein.

Die Verenigende Christen Studentevereniging (VCSV), wat op 28 Julie 1896 deur dr. Andrew Murray gestig is, het Dinsdag 124 genadejare gevier.

Lulu van der Berg, provinsiale hoof van die VCSV in die Vrystaat, vertel dat wanneer sy aan die vereniging se 124-jarige bestaan dink, is daar vir seker net een woord wat opkom: GENADE!

“Soveel genadejare gaan beslis nie oor mense nie, Dit gaan absoluut net oor God se genade en sy goedheid en guns vir sy organisasie,” sê sy.

Sy vertel dat dit vir hulle die belangrikste is om Jesus aan jongmense voor te stel. Daarvoor word verskillende kampe, projekte, uitreike en skoolbesoeke gebruik. “Ons is ook die oudste jeugorganisasie in Suid-Afrika,” sê sy.

Die Verenigende Christen Studentevereniging se hooffokus was nog altyd skoolbesoeke. “Wanneer ons skoolbesoeke doen, werk ons met die kinders en met die onderwysers. Ons bied ook jeugweke aan wanneer ons verskillende dinge in so ‘n week saam met die kinders en onderwysers doen.

“Jeugkampe is ons ander spesialiteit en ons bied ‘n verskeidenheid kampe aan, soos byvoorbeeld avontuurkampe, leierskampe, graad-kampe, waardes-maak-saak-kampe en skoolverwisselingskampe,” voeg sy by.

Tydens die inperking is die vereniging glad nie toegelaat om skoolbesoeke te doen nie en kon ook nie kampe aanbied nie. “Dis vir ons ‘n groot probleem, want in dié stadium het ons geen inkomste nie. Dit het daartoe gelei dat salarisse gesny moes word en talle uitgawes ingekort is.

“Op dié oomblik het ons net kontak met ons skole, kinders en onderwysers via die tegnologie,” sê Van der Berg. Sy vertel dat hulle baie dankbaar is vir die tegnologie en die internet, maar kontak op ‘n skerm is “darem maar nie dieselfde as werklike kontak tussen mense nie”.

“Ons hoop in die VCSV is net Jesus en Hy alleen. Daar is geen toekoms vir ons sonder Hom en sy oorvloedige genade nie.”

Die VCSV het “The Mad Challenge” (making a difference) begin waar deelnemers ‘n 30-sekonde-video: “Act of Kindness” of ‘n inspirerende boodskap na die VCSV kan stuur. Die wenner wen dan R200 kontant.

Om deel te neem, stuur jou video na lulu@vcsv.co.za en stem dan vir die beste inskrywing op VCSV se Facebook-blad.

Die VCSV verwelkom skenkings van R124 om ‘n verskil in iemand se lewe te maak. As lesers ‘n bydrae wil maak, kontak gerus vir Lulu by lulu@vcsv.co.za vir meer besonderhede.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za