VCSV ‘hou vas’ aan genade

0
624
Die Verenigende Christen Studentevereniging (VCSV) in die Vrystaat se provinsiale hoof, Lulu van der Berg

Die Covid-19-pandemie raak nie net besighede weens die regulasies wat daarmee gepaard gaan nie. Een godsdienstige organisasie, wie se enigste inkomste die aanbied van kampeerkampe en jeugdae is, is erg geraak.

Die Verenigende Christen Studentevereniging (VCSV) in die Vrystaat se provinsiale hoof, Lulu van der Berg, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle hierdie tyd van die jaar gewoonlik baie besig is met kampe en skoolbesoeke. Daar het tot dusver niks van gekom nie, maar hulle “hou vas”.

Van der Berg voeg by dat hulle tydens die inperking besig was om nuwe programme te ontwikkel, hulself meer toe te rus, en om ondersteuning te bied aan skole, onderwysers en leerders deur middel van sosiale media, ensovoorts.

“Ons is besig met instandhoudingswerk en opgradering op ons kampterrein – soos wat die finansies ons toelaat.”

Daar is baie jongmense wat ongelukkig nie die kampe kan meemaak nie; daarom werk die VCSV deur sosiale media, e-posse, WhatsApp-groepe, ensovoorts, om met die kinders te kommunikeer. “Ons werk ook saam met RoadTrip247,’n aanlynbediening met ‘n toepassing wat kinders kan aflaai, asook ‘n WhatsApp-groep waarby kinders kan inskakel. Die kinders kry elke dag hier ‘n boodskap van hoop, en verskillende temas word aangebied.”

Volgens Van der Berg is hul grootste uitdaging in hierdie stadium finansies.. “Omdat ons kampe en ons kampterrein ons ‘sakebeen’ is, en ons in hierdie stadium geen inkomste verdien uit kampe nie, beteken dit dat ons geen geld inkry nie.”

“Ons het personeel wat betaal moet word, ons het lopende uitgawes wat elke maand gedek moet word, ons personeel se salarisse is al gesny en ons probeer werklik om te sny waar ons kan.

“Die grootste les wat ons geleer het, is dat alles in ‘n splitsekonde kan verander, dat jy bereid moet wees om dit te aanvaar as daar verandering kom, en om aanpassings te maak.

Die ander les is vir seker dat jy elke minuut wat jy fisiek by iemand kan wees, moet geniet en die beste daarvan maak. Die wonderlikste van alles: God verander nooit en weet wat Hy doen. Soms moet ons op maniere leer wat dalk minder lekker in ons lewens is.

Vir finansiële ondersteuning aan die VCSV, kan belangstellendes ‘n e-pos stuur na lulu@vcsv.co.za

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za