MARICELLE BOTHA
’n Bloemfonteinse pa en seun het verlede week ’n maandlange reis rondom Suid-Afrika op die rug van hul ysterperde begin. Vernon en Marno Albrecht sal sowat 6 000km aflê as deel van ’n landwye bewusmakingsveldtog vir testikulêre kanker, die noodsaaklikheid van bloedskenk en die Kom Veilig Aan-veldtog. Vernon vertel dat die hele idee agter hierdie ultra-motorfietstoer, die bekende fliek, The Bucket List was, maar dat dit ook belangrik was dat die hele toer ’n doel het.
“Dié tyd van die jaar is daar so baie padongelukke en ons het gevoel dat dit die ideale tyd sou wees om mense aan te moedig om veilig te reis, sowel as om hulle bewus te maak daarvan dat jy iemand anders se lewe kan red deur bloed te skenk.”
Wat Kansa betref, sê Vernon die organisiasie het ’n baie spesiale plek in sy hart. “Jy weet, vroumense is baie beter met hierdie tipe ding. Hulle gaan gereeld vir ondersoeke en scans, maar ons mans gaan mos maar net aan.” Hy lig uit hoe belangrik dit is om reeds as jong seun gereeld vir skanderings te gaan. “Mans tussen die ouderdomme van 30 en 39 het tans die hoogste syfer as dit by testikulêre kanker kom,” vertel hy.
Dié ultra-toer wat hier in Bloemfontein weggetrek het, sal Vernon en Marno al om die land se grense vat van Durban na Nelspruit, vandaar na Musina, Mafikeng, Hotazel, Alexanderbaai, Kaapstad, Port Elizabeth, al langs die kus van die voormalige Transkei tot weer in Durban, en dan weer terug in Bloem. Hulle behoort vroeg in Januarie terug in die Rosestad te wees. Beide kan uitgeken word deur die Blood Buddy-gelukspoppe op hul rûe. Toon gerus ondersteuning as jy hul teëkom.
Volg Vernon en Marno se toer op Twitter by @awarenesstour of op Facebook by Aware Tour. E-posse kan ook gestuur word na awarenesstour@gamil.com.