Van Wyk wen weer Glacier-gholftoernooi

0
Van Wyk wen weer Glacier-gholftoernooi

GEORG VAN ECK

Die knap junior gholfspeler van die Vrystaat en Noord-Kaap, Attie van Wyk van Schoemanpark-gholfklub, het die tweede  agtereenvolgende jaarlikse Gacier-toernooi in Bloemfontein gewen. Van Wyk sal nou die Vrystaat en Noord-Kaap Gholfunie in die eindronde van die Glacier-kompetisie in September verteenwoordig en staan dus ’n kans om vir die Oranje Bowl-toernooi in Amerika te kwalifiseer.

Die speler van Schoemanpark moes uithaal om Danus Kruger van Upington met ’n enkele hou te klop, terwyl Christopher Hibbert van Sishen in die derde plek geëindig het. In die skolekompetisie van VS/NK Gholfunie sal Grey-kollege en Ficksburg as hoërskoolspanne die unie op die Suid-Afrikaanse skoletoernooi verteenwoordig. Die wenners van die laerskole was Kathu en Grey-kollege.

Die komende naweek kan 90 juniors in die belangrike Vaal de Grace Junior Ope op Parys speel. Vir die juniors van alle ouderdomsgroepe is die toernooi van groot belang, want die spanne vir die Suid-Afrikaanse interprovinsiale toernooie word ná die toernooi gekies.  Die o.19-span bestaan uit sewe spelers;  die o.16-span uit ses spelers en die vier topmeisies word vir die meisiespan gekies. ’n VS/NK o.14-span van ses spelers sal ook vir die Span-uitdaagtoernooi op Worcester aangekondig word.

georg@centralmediagroup.co.za

No posts to display