Van tekenaar tot kunstenaar

0
707
Hennie van Zyl aan die werk in sy ateljee.

Wanneer mens noustrop trek en jou pensioengeld nie jou uitgawes kan dek nie, moet daar ‘n ander plan gemaak word om aan die lewe te bly. Dit is presies wat Hennie van Zyl van Bloemfontein gedoen het.

Van Zyl, wat hierdie maand 66 jaar oud word, het in April 2018 begin eksperimenteer met verskillende kunsvorme. Dít nadat hy weens omstandighede noodgedwonge moes aftree. Toe die werklikheid hom tref en hy besef sy pensioengeld is nie voldoende nie, het hy begin om ‘n inkomste te genereer deur handgemaakte artikels te maak en te verkoop. Hier het hy sy talent begin ontwikkel en kan hy vandag spog met ‘n verskeidenheid kunsartikels wat hy self gemaak het.

Van Zyk vertel aan Bloemfontein Courant hoedat hy begin het met ‘n skinkbord met ‘n voorstelling van ‘n windpomp op die bodem.

Een van Van Zyl se tekeninge, Die plaashuis

“Ek het baie gedink aan metodes van drukwerk, maar niks wou regtig werk nie. Toe begin ek self teken. Eers net ‘n silhoeët in eenvoudige swart en wit.”

Hy sê dat hy ‘n hippie-tipe natuurmens is. “Rof, geroes en half stukkend; dit is waarvan ek hou. Die sogenaamde rustic voorkoms wat deesdae so gewild is, is ook ‘n neiging wat my goed pas.”

Die vaardige Van Zyl het artikels begin maak uit ou palletplanke, “want dit moenie te mooi en te netjies wees nie.” Hy vertel hy is nie een dag dieselfde nie, hy het geen vaste roetine nie en beskou dit as seker maar die free spirit-ding wat deurkom. As ek egter begin skilder, hou ek daarmee vol totdat dit voltooi is.” Op ander dae sal hy weer houtwerk doen, houtborde voorberei om op te verf, en sy gewone “lastige dagtakies” afhandel. “Ek vat elke dag soos hy kom en doen wat my hande vind om te doen. Ek werk dikwels tot baie laat in die nag en is soms weer net so vroeg op en aan die gang.”

Van Zyl voel dat mens in ag moet neem dat hy geen kunsagtergrond het nie. “Ek het geen opleiding van enige aard nie. Al wat my bietjie help, glo ek, is my gewese beroep as tekenaar in argitektuur.”

Van Zyk vertel hoedat hy elke treetjie gewaag het wanneer hy op ‘n nuwe idee afgekom het. “Ek moes meestal eers vir myself bewys dat ek iets kan doen voordat ek dit kon waag om bestellings met ‘n sekere tema te aanvaar.” Die plaashuis, wat hy op bestelling gemaak het, het hom slapelose nagte besorg. “Ek het geglo nou het slim sy baas gevang en sal ek met rooi ore moet erken dat ek nie suksesvol was nie.” Op die ou einde kon hy spog met ‘n treffer.

Van Zyl sleep elke Saterdag sy waentjie met “kunsgoedjies” met die groen Volla wat hy by sy pa gekoop vir het R600, na die Langenhoven Mark. So verdien hy ‘n ekstra geldjie.

Sazly Hartzenberg

sazly@centrealmediagroup.co.za