Rynardt van Rensburg is steeds besig om sy vlerke wyd te sprei in Europa en deeglik van hom kennis te laat neem.
Hierdie begaafde 800m-atleet van die Kovsies het sy goeie oorwinning verlede week in Spanje (1:47,76) Saterdag met ‘n mooi tweedeplek in Nivelles (België) opgevolg. Sy tyd in België (1:48,27) was ‘n raps stadiger as in Spanje, maar dit het gekom nadat hy Donderdag ‘n klipharde oefensessie deurgewerk het om te sien hoedanig hy van ‘n besering herstel het.
Van Rensburg is geklop deur die Australiër, Alex Rowe, wat 1:46,72 aangeteken het. Rowe se beste tyd in die 800m is ‘n goeie 1:45,44 teenoor Van Rensburg se beste van 1;46,36.
Van Rensburg het uit België vir Bloemfontein Courant gesê: "Ek was baie lam en toe Alex die laaste 200m versnel het, kon ek nie reageer nie. Ek kon Donderdag vir eerste keer in drie weke weer op die baan oefen en my besering is gelukkig nou iets van die verlede."
Die Belgiër, Ismael Debjani (derde) het sy beste 800m-tyd (1:48,72) van sy loopbaan voor sy tuisskare losgehardloop. Hy was ‘n kortkop voor nog ‘n Kovsie, Hannes Naudé (vierde, 1:49,17).
Naudé was ook Sondag in aksie by die Flandersbeker-byeenkoms in Huisingen (België). Hier was hy tweede in 1:50,08 en dit in ongure weersomstandighede. Hy is geklop deur Sajeesh Joseph (Indië, 1:49,54).
Annerie Ebersohn (Tukkies), voormalige hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein het in die 400m-hekkies vir vroue ‘n puik oorwinning in Nivelles behaal. Na ‘n kop-aan-kop tweestryd het Ebersohn haar neus net-net voor Britanje se Christine McMahon oor die eindstreep gekry. Ebersohn het 56,85 aangeteken en die Brit ‘n eweneens haastige 56,97.
Ebersohn is die jonger suster van die voormalige Cheetahs-rugbytweeling, Robert en Sias Ebersohn.