Van Niekerk word deelname geweier

0
8165
Wayde van Niekerk, Suid-Afrika en Kovsies se wêreldkampioen (400 m), na die inhandiging van ‘n motivering hoekom hy oorweeg moet word om by die Varsity-atletiekreeks in die blokke te sak, deelname geweier. FOTO: Van Zyl Naudé

Suid-Afrika en die Kovsies se wêreldkampioen (400m), Wayde van Niekerk, gaan tuisbly as die Kovsies se atletiekspan vertrek om Vrydag deel te neem aan die eerste van die gesogte Varsity-atletiekreeks wat in Stellenbosch beslis word.

Die direkteur van KovsieSport, DB Prinsloo, het aan Courant gesê daar bestaan ‘n reël dat deelnemers aan dié reeks bona fide-studente moet wees én ten minste 60 kredietpunte in die vorige akademiese jaar moet inwin. Dit is hier waar Van Niekerk nie aan die vereistes voldoen nie.

Hy het 48 kredietpunte (12 minder as die vereiste) bymekaargemaak, maar hy het dit alles in die eerste semester behaal. Van Niekerk kon in die tweede semester van verlede jaar nié akademiese kredietpunte bymekaarskraap nie, maar met baie goeie rede.

Dié internasionale ster was gedurende die tweede semester vir etlike maande in die buiteland waar hy onder meer Suid-Afrika en die Kovsies se vaandel hoog laat wapper het deur by verskeie IAAF Diamantliga-byeenkomste met die wêreldbestes kragte te meet.

Dit sluit die wêreldkampioenskap in wat Van Niekerk in ‘n tyd (43,48) gewen het om die Afrika-rekord agter sy naam te skryf en op drie na die beste 400m-atleet van alle tye te word.

Prinsloo sê: “Ons het geweet van die kredietpunte-reël, maar het gevoel dat Wayde nie dié punte kon vermag het nie omrede hy die land met groot sukses verteenwoordig het. Ek het ons inskrywings met ‘n motivering waarom ons reken Wayde ‘n kans gegun moet word om deel te neem, aan die Kovsies se registrateur, dr. Gift Vinger, vir goedkeuring gestuur. Hy het nie ‘n probleem daarmee gehad nie en die inskrywing is met sy goedkeuring ingehandig.”

Kort daarna is KovsieSport deur ‘n administrateur van Varsity Sport, Jana Arlow, verwittig dat Flip van Zyl, hoof- uitvoerende beampte van Varsity Sport, besluit het dat Wayde nie mag deelneem nie.

Daar sal uiteenlopende menings wees oor dié rigiede besluit. Eerstens, ‘n reël is ‘n reël en moet ten alle tye streng toegepas word om die skep van ‘n presedent te voorkom.

Tweedens, sal dit atletiek en sport in die algemeen in Suid-Afrika slegs bevoordeel indien die reël gebuig word om Van Niekerk te laat deelneem. Veral in die lig gesien daarvan dat sy prestasie die hele land tot voordeel gestrek het.

Prinsloo het voorts gesê: “Indien Wayde sou toegelaat word om deel te neem, sal televisie-kykersgetalle die hoogte inskiet en sal dit tot groot voordeel vir die borge wees wat groot bedrae geld spandeer om groter sukses van dié reeks te help bewerkstellig”.

Courant kon nog nie kommentaar van Van Niekerk bekom nie. – RUFUS BOTHA