Van kinderhuis-kind tot voorsitter

0
2830
Dina van Heerden met 'n paar kinders van Ons Kinderhuis. FOTO: Gypseenia Lion

Dina van Heerden is onlangs verkies as die voorsitter van Ons Kinderhuis en kan met trots spog dat sy feitlik self in die kinderhuis grootgemaak is. “Ek was vanaf 1978/79 in die kinderhuis en is in 1985 uit die kinderhuis uit,” het Van Heerden gesê.

Sy voeg by dat sy ook haar man in die kinderhuis ontmoet het. “Ons het ontmoet toe ek in standerd 6 [graad 8] was en hy in standerd 7 [graad 9] was. Ons is nou 33 jaar getroud met drie seuns.” Volgens Dina wou sy nog altyd terugkom kinderhuis toe, maar sy wou eers al haar kinders grootmaak.

“Dit is nooit lekker vir ‘n kind om hier te beland nie, maar weet jy wat, wat ek hier beleef het, het baie vir my beteken want ek weet as ek in my ouerhuis grootgeword het, sou ek niks gehad het nie. Ek sou tien teen een nie so ‘n goeie lewe gehad het as wat ek nou het nie. Ek sou beslis nie die geleentheid gehad het om iets vir iemand in nood te doen nie,” het sy gesê.

Dina van Heerden. FOTO: Gypseenia Lion

Van Heerden sien haar tyd in die kinderhuis as ’n ervaring wat haar die mens gemaak het wat sy vandag is. “Ek het steeds die keuse gehad en ek het besluit as ek die dag hier uitstap, sal ek sorg dat ek ’n goeie lewe het en dat ek terug sal kom,” het sy gesê.

Sy noem dat sy as vrywilliger by die kinderhuis aangesluit het met ’n kersboom-projek en so het sy aangehou totdat sy vyf jaar gelede aan die jaarlikse Mev. Bloemfontein-kompetisie deelgeneem het en die kinderhuis haar amptelike liefdadigheidsorganisasie vir die kompetisie was. Sy sê Frikkie van Dyk, die skoolhoof van Ons Kinderhuis, het gedink dit sal goed wees as sy amptelik by die bestuur aansluit. Dina is sedertdien deel van die bestuur totdat sy in 2022 as voorsitter verkies is. Sy hou steeds die eerste Saterdag in November die kersboom-projek.

“Ek dink nie mense sal verstaan watter groot voorreg dit is om deel te kan wees van ’n organisasie soos Ons Kinderhuis nie. As hulle weet waardeur jy gegaan het in jou kinderjare, of as hulle dieselfde ervaring gehad het, sou hulle verstaan het as hulle hier instap.” In haar rol as voorsitter wil sy ‘n mentor wees en iemand na wie die kinders kan opsien.

Sy wil hê hulle moet kan sê: “ ‘Tannie Dina het dit gemaak, so ek kan dit ook maak’. Ek wil hê elke kind wat hier uitstap, ongeag wat met hulle gebeur het in die lewe, moet weet dat jy iets met jou lewe kan doen. Jy moet net die regte keuses maak. Dit is ook belangrik dat ek die kinders aanmoedig en vir hulle sê dat al wat nou saak maak, is wat voor jou lê, die verlede en hoe jy grootgeword het maak nie saak nie, jou toekoms maak saak.”

Een van haar passieprojekte by die kinderhuis is die skoolverlatersgroep wat Van Dyk begin het. Dit word opgedra aan die kinders wat klaar is met skool en nêrens het om heen te gaan nie. Hulle het een woonstel wat aan hulle beskikbaar gestel is en vandag het hulle vier kinders wat daar woon. Dit is iets waarmee sy graag uithelp.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za