Van der Vyver beoog SA pluimbaltitel in Rosestad

0
Van der Vyver beoog SA pluimbaltitel in Rosestad
RUFUS BOTHA

Janke van der Vyver van die Hoër Meisieskool Oranje is sterk op pad om haar Suid-Afrikaanse ope pluimbaltitel vir junior vroue op haar voorstoep te verdedig. Van der Vyver, wat een van die ses uitverkorenes onder die beste junior sportlui in die Vrystaat was wat deur Vrystaatsportmedia vereer is in 2013, het die tweede jaar agtereenvolgens die eindstryd van die enkelspel gehaal en dit het gelyk of sy dit op ‘n drafstap doen.

Genoemde kampioenskap het plaasgevind by Tempe in Bloemfontein en dit het geblyk dat Van der Vyver deeglik gebruik gemaak het van haar tuisveldvoordeel. Sy het in die eerste ronde ‘n loslootjie gehad en toe in die tweede ronde teen Prelisha Nadesan te staan gekom.

Van der Vyver het geen genade vir dié KwaZulu-Nataller gehad nie en die grond met haar gevee met 21 – 2, 21 – 4. In die kwarteindronde het Van der Vyver die wind effens meer van voor gekry, maar steeds in skoon stelle gewen.

Sy het hier vir Zani van der Merwe (Gauteng-Noord) met 21 – 14 en 21 – 15 kafgedraf. In die halfeindronde was Tarryn Jacobs van die Westelike Provinsie aan die beurt.

Met Van der Vyver wat heelparty ongedwonge foute in die eerste stel gemaak het, het Jacobs die telling tot by ‘n skrikmaker 10 elk opgejaag en toé skrik Van der Vyver wakker. Kort daarna was die telling 15 – 10 in die Vrystater se guns en sy wen die eerste stel uiteindelik verspot makilik met 21 – 11. In die tweede stel het Jacobs verbete probeer, maar Van der Vyver was een te veel vir haar.

Laasgenoemde het met tye skitterende spel gelewer wat puik mokerhoue en valhoue ingesluit het. Die wyse waarop sy beplande houe tot op die nippertjie wegsteek was ook opvallend. Toe Jacobs met die telling op 14 – 7 teen haar ná ‘n skitterende verskeidenheid van houe, haar kop in ongeloof skud, was die koeël duidelik deur die kerk.

Die Bloemfonteiner het moeg vertoon na die wedstryd en vir Courant gesê: "Ek het van die begin af met ‘n kwaai migraine gespeel en kon nie konsentreer soos ek moes nie. Ek glo dit sal beter gaan in die finaal", het sy bygevoeg.

Van der Vyver het Dinsdagaand, nadat Bloemfontein Courant drukkers toe is, teen Anri Schoonees (Boland) te staan gekom.

Die volledige verslag van die kampioenskap sal Vrydag op Courant se webtuiste www.bloemfonteincourant.co.za beskikbaar wees.

No posts to display