Vakansietyd – wees veilig op die pad

0
1147

OWEN KOCK

Dis weer tyd vir die jaarlikse winter-skoolvakansie en die uittog na die kus en ander sentra begin eersdaags.
In ‘n poging om padveiligheid beter te verstaan, het Courant onlangs ‘n toer met die N3-tolkonsessie (N3TC) op die N3 tussen Johannesburg en Pietermaritzburg meegemaak. Dit was iets om te beleef. Alles moontlik word deur die maatskappy N3TC gedoen om motoriste veilig op die pad te hou.

Eerstens berus die onus op eienaars van voertuie om te verseker hulle voertuie is in padwaardige toestand (van bande tot ruitveërs) en het geen skete wanneer ‘n lang reis onderneem word nie.

Wat N3TC betref, help hy nie nét om die pad in ‘n goeie toestand te hou nie, motoriste wie se motors op die pad onklaar raak word ook bygestaan. Die N3-roete is, veral hierdie tyd van die jaar, bekend daarvoor dat gebruikers van die pad op ‘n gereelde basis met sneeu te doen kry, om nie eers van die stormsterk winde wat selfs vragmotors omwaai, te praat nie.

‘n Soutwatermengsel word gewoonlik op die pad tussen Harrismith en die punt van Van Reenenspas oor die pad gestrooi sodra die eerste waarskuwing dat sneeu op pad is ontvang word. Dit kan egter slegs gebeur wanneer die pad ‘n sekere temperatuur bereik. Dit is so dat motoriste dan baie ongeduldig raak, maar vir hul eie veiligheid bied die N3TC ook alternatiewe roetes. Die hartklop van sy werksaamhede is by sy inbelsentrum aan die bo-punt van Van Reenenspas.

Dit is daar waar probleme op die pad aangemeld en gemonitor word. Daar is selfs ‘n kamera op Van Reenenspas wat elke
30 minute ‘n ander prentjie vertoon. Twiets, SMS’e, asook elke oproep word aangeteken en sodoende word motoriste gewaarsku waar daar moontlike probleme is. Van die probleme sluit nie net sneeu en wind in nie, maar ook beheerde of wegholveldbrande. N3TC se verskillende spanne is slaggereed om te help. Die bystandvoertuig van N3TC is byvoorbeeld toegerus met pompe, waaierbande en selfs die oubekende patch and solution om motorsite te help om ten minste tot by ‘n plek te kan ry waar hulle die nodige dienste kan bekom.

"Dit gaan nie net om seker te maak daar is geen ongelukke nie. Ons gee werklik om vir die padgebruikers en ons staan hulle by net waar ons kan," aldus Con Roux, N3TC se kommersiële bestuurder.

Hy en sy span werk veral saam met radiostasies om seker te maak padgebruikers bly op die hoogte van die jongste stand van sake op die roete. Soos die program by Mooirivier, waar daar na veral trokbestuurders se welstand omgesien word omdat hulle lang ure op die pad deurbring. "Baie van die bestuurders wat in ongelukke betrokke is, sê eenvoudig hulle kan nie onthou wat gebeur het nie. In baie gevalle is dit die waarheid, hulle kan nie onthou nie. Hulle bring soms 38 uur agter die stuurwiel deur, want hulle word per afgelewerde vrag betaal en as daar nie ‘n vrag afgelewer word nie, is daar nie geld en kos op die tafel nie. Dit is wanneer die ouens begin om verbode middels te gebruik om wakker te bly. Hulle ry bevoorbeeld tussen Durban en Kaapstad en as hulle in Kaapstad aankom, neem hulle daardie verbode middel, want neem hulle dit nie, slaap hulle vir 48 uur en dan kom geen geld in nie," meen Praveen Sunderlall, RIMS-streeksbestuurder, N3TC.

Hoe dit ook al sy, motoriste moet te alle tye seker maak hul voertuie is in ‘n goeie werkende toestand wanneer hulle enige uittog aanpak, want dit sal nie net owerhede help nie, maar die veiligheid van hul gesinne verseker en help om ongelukke op die land se paaie te verminder.

owen@centralmediagroup.co.za