UV-laboratorium kry gesogte kontrak

0
1471
Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) , Dr. Derek Litthauer, Suid-Afrikaanse Nasionale Beheerlaboratorium (NBL), Biologiese Produkte, Universiteit van die Vrystaat
Dr. Derek Litthauer

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Beheerlaboratorium (NBL) vir Biologiese Produkte, wat by die Universiteit van die Vrystaat gesetel is, het ‘n drie-jaar-kontrak van die nasionale regering ter waarde van R53.5 miljoen losgeslaan.
Dié laboratorium, die enigste in sy soort in Afrika, is verantwoordelik vir die toetsing van entstowwe voordat hulle op die Suid-Afrikaanse mark geregistreer kan word. Geen entstof mag in Suid-Afrika gebruik word sonder ‘n vrystellingsertifikaat, uitgereik deur die Beheerlaboratorium, wat sertifiseer dat die entstof geskik is vir menslike gebruik nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beraam dat daar sowat 5.2 miljoen kinders jaarliks onder die ouderdom van ses oor die wêreld heen sterf. Van hierdie sterftes kan 29% deur entstof voorkom word.
Dr. Derek Litthauer sê hierdie kontrak van die nasionale gesondheidsdepartement is baie goeie nuus.
“Wat ons moet doen, is om te verseker dat entstowwe wat vir mense gebruik gaan word die regte kwaliteit is. As jy later vanjaar vir jou griepinspuiting gaan, sal dit beteken dit is deur ons getoets en goedgekeur. Dit is egter nie die toets van nuwe medisyne nie, maar bestaande medisyne wat ingevoer word,” verduidelik Litthauer.
Entstowwe is biologiese medisyne wat gebruik word om gesonde bevolkings te verseker deur die voorkoming van talle siektes. Navorsing het getoon dat ongeveer 6 miljoen sterftes elke jaar wêreldwyd deur entstowwe voorkom word. Veilige en doeltreffende entstowwe is noodsaaklike openbare gesondheidshulpmiddels wat internasionaal streng gereguleer word. Dit is die NBL se verantwoordelikheid om gehaltebeheertoetse op alle entstowwe uit te voer wat vir mense in Suid-Afrika gebruik word.  – Cathy Dlodlo
cathy@centralmediagroup.co.za