UV veereer voormalige hoof van Nelson Mandela-stigting

0
1085

“Nadat ek die grootste deel van my lewe in openbare diens deurgebring het, is dit ‘n groot vreugde om erkenning van die Universiteit van die Vrystaat (UV) te ontvang vir die werk wat ek gedoen het,” het dr. John Samuel in sy aanvaardingstoespraak tydens die UV se wintergradeplegtigheid gesê nadat ‘n eredoktorsgraad aan hom toekgeken is.

Die bekende opvoedkundige se merkwaardige meriete is by die gradeplegtigheid op 2 Julie 2015 deur die Fakulteit Opvoedkunde erken.Samuel het die eredoktorsgraad ontvang vir die enorme rol wat hy as nasionale en internasionale strateeg in die onderwysstelsel gespeel het.

Die vroeë 1960’s was die aanloop tot sy se lewenslange avontuur as onderwyser, beleidsontleder, administrateur en raadgewer. Afgesien van Suid-Afrika, het hy in verskeie lande met deernis gedien, waaronder Zambië, Ghana, Nigerië en die VSA.

Met die aanvang van Suid-Afrika se demokrasie het Samuel as hoof van die onderwys-lessenaar gedien, waar hy nuwe beleid op die gebied van onderwys en opleiding ontwikkel het. Een van sy talle belangrike prestasies was sy diens as hoof uitvoerende beampte van die Nelson Mandela-stigting. Die Suid-Afrikaanse departement van onderwys het verder ook baat gevind by sy aanstelling as adjunkdirekteur-generaal.

Samuel was van 1998 tot 2000 die senior programdirekteur van die WK Kellogg-stigting in die VSA.

Dié hoof-uitvoerende voorsitter van die Oprah Winfrey-leierskapakademie vir meisies, het graduandi met hartlike woorde geïnspireer. “Graduering is ‘n spesiale tyd vir almal. Dit is nou tyd om dit wat ons geleer het, in bruikbare aksie om te sit. Ons het elke paar hande nodig om te help en te inspireer en hoop te vestig,” het hy gesê.

UV-VERKLARING