UV-student steeds vermis

0
572

CHRISTAL-LIZE MULLER

Daar word steeds gesoek na ‘n derdejaar-student aan die Universiteit van die Vrystaat wat Saterdag van die Bloemfontein-kampus verdwyn het. Die 21-jarige Patrick Jumba Lukwago-Murgerwa, ‘n student in B.Com.- bemarking en inwoner en HK-lid van die Huis Abraham Fischer (Vishuis) is Saterdagoggend omstreeks 05:00 die laaste keer in die koshuis gesien. Die UV se Lacea Loader sê die gewilde student se verdwyning is ‘n groot bekommernis vir die universiteit. Hy is sowat 1,8m lank, weeg sowat 80kg en is goed gebou.
 
Hy het kort hare en ‘n brandmerk op sy regterhand en het Saterdagoggend ‘n swart trui met ‘n kappie gedra. Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê die vermiste student het sy kamermaat se toegangskaart gebruik om die kampus te verlaat. Hy het sy eie kaart, selfoon, skootrekenaar, ID en paspoort in sy kamer gelaat. Lukwago-Murgerwa is na wat verneem word van Venda.

Mense met inligting kan Mokgawa Kobe by 071-681-0939 bel of e-pos by kobeme@ufs.ac.za.