Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die afgelope naweek nuus gemaak met die stigting van die Vereniging van Voormalige SR-Voorsitters van die UV (VVSV) – die eerste vereniging van sy aard na die samesmelting en inlywing van openbare instellings in 2003 en 2004.
Twee en twintig voormalige SR-voorsitters het die bekendstellingsdinee op Vrouedag, Vrydag 9 Augustus 2013 bygewoon, met spesiale erkenning aan al vier vroulike voorsitters wat voorheen die SR gelei het en ook teenwoordig was. Onder die ander gaste was voormalige rektors en voorsitters van die UV-Raad, asook voorsitters van die alumni.
Die voorsitters wat teenwoordig was, het gedurende die tydperk 1967-2012 gedien, óf by die voormalige Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), die Qwaqwa-kampus van die eertydse Universiteit van die Noorde, die Suid-kampus van die destydse Vista Universiteit óf die Universiteit van die Vrystaat.
“Julle baie persoonlike vertellings as voormalige studenteleiers gedurende die onstuimige verlede in Suid-Afrika se geskiedenis is die belangrikste wanneer julle die vrae vir en die doelwit beplan vir geloofwaardige gesprekvoering met hedendaagse studenteleiers – dit is wat julle van ander sal onderskei," het Rudi Buys, Dekaan: Studentesake, gesê.
Voormalige SR-voorsitter van 1975/6 en nou stigterslid en voorstter van die vereniging, dr Michiel Strauss, het gesê hierdie is ‘n geleentheid vir oudstudenteleiers om iets terug te gee aan die jonger geslag.
“Dit is ‘n feit dat baie middeljarige blanke Suid-Afrikaners ‘n groot skuldbesef en verpligting teenoor die jeug van ons land het. Ons is aan hulle ‘n verskoning verskuldig vir die teenstrydighede van die verlede. Hierdie verskoning moet meer wees as net woorde. Dade van versoening en herstel moet sigbaar wees.
“Wat myself aanbetref, ek was voorsitter van die SR van die destydse UOVS op dieselfde tyd wat die grootste deel van die jeug in Suid-Afrika soveel gely het in hulle stryd om vryheid in ons land. In my persoonlike hoedanigheid, sowel as in my amptelike hoedanigheid as SR-voorsitter, het ek niks gedoen om te probeer verstaan en/of te help in die stryd wat my eweknieë gevoer het nie. Hierdie realiteit spook vandag nog by my.”
“Die vraag vir myself en soveel ander mense soos ek, is dus: Waar leef ek my tyd en krag en passie vir hierdie land uit? Waar sal my bydrae werklik ‘n verskil maak? Daar is geen beter antwoord op hierdie belangrike vraag nie as om te belê in die menslike hulpbronne van ons geliefde Suid-Afrika, en meer spesifiek – om in jongmense te belê.”
“Daar is iets sinvols en pragtigs aan die gebeur by die UV. Die UV is nou ‘n leier op die gebied van akademiese standaarde, versoening, leierskapontwikkeling en nasiebou. Ek kan aan geen beter plek dink om my beskeie bydrae te lewer nie,” het dr Strauss gesê.
“As eertydse studenteleiers is ons doelgerig om ‘n bydrae te maak tot die universiteit en daar is geen beter tyd om te begin as nou nie. Dit is vir my ‘n voorreg om deel te wees van hierdie belangrike inisiatief en ek kan nie wag om te sien wat bereik gaan word nie,” het dr More Chakane, adjunkvoorsitter van VVSV en voormalige SR-voorsitter van die Uniqwa-kampus van die Universiteit van die Noorde in 1990 (nou die Qwaqwa-kampus van die UV) gesê.
Roelf Meyer het gesê sy tydperk as ‘n leier by die universiteit het aan hom die geleentheid gegee om sy vaardighede en ervaring toe te pas en dit met die nuwe leiers van die instelling te deel.
Meyer is bekend vir die prominente rol wat hy gespeel het in die onderhandelings om ‘n einde te bring aan apartheid in Suid-Afrika en voorsitter van die Burgerlike Samelewingsinisiatief (CSI) van Suid-Afrika.
"Die UV word hoog aangeskryf as gevolg van die uitsonderlike standaarde en uitnemendheid wat deur die senior leierskap uitgeleef word. Waar ek ‘n verskil kan maak, sal ek dit met plesier en met trots doen," het hy gesê. Meyer het in 1970 as SR-voorsitter gedien.
Die vereniging het op Saterdag 10 Augustus 2013 vergader om ‘n tussentydse grondwet te aanvaar en bedryfsake te oorweeg.
Die vereniging het terselfdertyd ‘n ooreenkoms bereik oor hul belangrikste take ter ondersteuning van die doelwit om leierskapvaardighede aan studenteleiers in amptelike hoedanighede oor te dra en sinvolle bydraes van alumni tot die ontwikkeling van die universiteit te bewerkstellig.
“Ons het groot waardering vir VVSV se verklaring van voorneme om met die universiteit saam te werk om betekenisvolle en volhoubare mentorskapprogramme te ondersteun en leiding te gee aan studenteleiers op die kampus, en het ons steun in die verband belowe,” het Buys gesê.
– Mediaverklaring