Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se eerste vroulike visekanselier, prof. Hester Klopper, het op 1 Februarie amptelik haar pos beklee. Sy het in haar eerste maand in haar nuwe rol die stad en sy mense leer ken, en het sommer volstoom begin met die implementering van nuwe idees.
“Ek het voorheen gehoor van die hartlikheid van die stad en die provinsie, en ek moet eerlikwaar sê ek beleef dit,” het Klopper vertel. “Dit is vir my op hierdie stadium ’n wonderlike leerervaring.”
Prof. Klopper verduidelik dat sy in haar nuwe posisie die Bloemfonteinse en Vrystaatse gemeenskap moet ervaar om ’n verskil te maak. “In hierdie rol moet ’n mens die gemeenskap ervaar om werklik ’n verskil te maak,” vertel sy. “As die rol van die universiteit is om ’n verskil in die gemeenskap te maak, dink ek dit begin met my rol.”
Van haar eerste ondervindings in Bloemfontein, het sy grappenderwys gesê, is dat niemand in Bloemfontein mag kla oor verkeer nie. “Om van een deel van die stad te ry na die ander in 20 minute is ongelooflik,” sê sy. Prof. Klopper het Bloemfontein verder vergelyk met Amerikaanse universiteitsdorpe, wat ’n soortgelyke uitleg het.
“Ek was werklik verras om hier aan te kom en te sien wat hierdie kampus bied,” het sy van die UV se Bloemfontein-kampus vertel. “Dit is ’n kampus wat, gegewe die uitdagings wat hoër onderwys ervaar, baie goed onderhou word en wêreldklasgeriewe bied.”
Prof. Klopper glo dat dit wat op die Bloemfontein-kampus gebeur, op die ander kampusse ook moet plaasvind. Die nuwe visekanselier beweer dat alhoewel alle universiteite fokus plaas op innovasie, die UV se Suid-Kampus homself kan vestig as ’n entrepreneuriese middelpunt, deur middel van die “innovasie-inkubator”. Dít is ontwerp om idees te ontwikkel tot op ’n punt waar dit geproduseer en vrygestel kan word.
Prof. Klopper hoop om die indiensneembaarheid van studente van die UV te verbeter deur in die toekoms meer op praktiese ondervinding in alle fakulteite te fokus. “Ons fokus is op werk-geïntegreerde leer en hoe ons innovasie kan gebruik om werk-geïntegreerde leer in al ons programme te bevorder,” verduidelik sy.
In terme van navorsing by die universiteit het sy haar pa, ’n predikant, aangehaal deur te sê: “Daar is altyd plek vir verbetering.” Sy noem wel dat die UV se navorsing baie sterk is vir ’n universiteit wat gefokus is op opleiding en akademie.
Prof. Klopper het verder vyf areas geïdentifiseer waarop sy en die universiteit kan fokus op die kort termyn, naamliks innovasie in entrepreneurskap, fokus op interdissiplinêre navorsing, die multikampus-model waarop die UV gebou is, om die UV te vestig as ’n voorkeurwerkgewer, en ’n studentgefokusde benadering in onderrig.
“Hierdie is die land se universiteit wat waarskynlik die beste geposisioneer is,” het sy afgesluit.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za