UV-professor vir bydrae tot Bybelvertaling bekroon

0
2265
prof. Hermie van Zyl

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sal later vanjaar ‘n professor van die Universiteit van die Vrystaat vir sy bydrae tot Christelike teologie en Bybelvertaling bekroon.

Die Ds. Pieter van Drimmelen-medalje sal vanjaar aan Hermie van Zyl, navorsingsgenoot by die Fakulteit van Teologie aan die universiteit, toegeken word.

Hy sal veral erkenning vir sy bydrae ten opsigte van die Afrikaanse Bybelvertaling kry. Hy was ook betrokke by die Verwysingsbybel, die Afrikaanse Bybel vir Dowes en die direkte vertaling van Die Bybel.

Van Zyl het aan Courant vertel dat hy redelik stomgeslaan is oor die benoeming.

“Ja-nee, ek voel beslis geëerd. Ek het regtig nie gedink die werk wat ek rondom die Bybel-vertalings gedoen het, sal van só ‘n deurslaggewende aard wees dat ek ‘n toekenning daarvoor kry nie. Ek is egter dankbaar dat iemand dit raakgesien het en my vir die toekenning genomineer het,” sê Van Zyl.

Die Ds. Pieter van Drimmelen-medalje word toegeken vir werksaamhede soos Bybelvertalings, teologiese handboeke in Afrikaans vir gebruik deur universiteitstudente, gepubliseerde preekbundels, godsdiensonderwys en die skryf, vertaling, toonsetting en bywerking van Afrikaanse Psalms en Gesange.

Die prestige Hertzogprys sal aan Willem Anker vir Buys: ‘n Grensroman toegeken word.

Die pryse sal op bekroningsplegtighede op 29 Junie of 7 Oktober oorhandig word.

– Mark Steenbok