Twee Kovsie profs, Lodewyk Kock en Robert Bragg van die Departement Mikrobiese, Biochemiese en Voedselbiotegnologie het beide lesings gelewer by die eerste Internasionale Konferensie oor Aansteeklike Siektes en Nanomedisyne wat aan die einde van verlede jaar in Katmandu, Nepal, gehou is. Vir Kock is hierdie eerste konferensie gevolg deur ’n opwindende gis-navorsingsuitstappie deur die Mount Everest Highway wat deur die dorpies van die Sherpa-stam kronkel.
Kock vertel die Mount Everest Highway is ’n ruwe pad wat oor heuwels en ysige morene van onbekende hoogtes en ysige temperature strek. “Ek moes dwarsdeur my reis versigtig wees om nie hoogtesiekte, wat erge hoofpyn en duiseligheid veroorsaak, op te doen nie.”
Die enigste wyse van vervoer was te voet, op langhaarbeeste genaamd jaks, op donkies en per helikopter.
Nadat hy per vliegtuig van Katmandu vertrek het, het hy by Lukla geland, wat as gevolg van sy kort, verhewe aanloopbaan en bergagtige omgewing, as die gevaarlikste lughawe ter wêreld beskou word. Van Lukla af, deur die land van die Sherpas, het hy saam met sy Sherpa-gids en draer al langs die Everest Highway gestap, omring deur verskeie Boeddhistiese Mani-skrifstaanders, ander Boeddhistiese afbeeldings en vele skouspelagtige, sneeubedekte berge van meer as 6 000m bo seevlak. Die majestueuse berg met die naam Ama Dablam (6 812m), die grootse piek Lhotse wat 8516m hoog is en aan sy linkerkant die bekende Mount Everest van 8 848m hoog, het hom die meeste getref, vertel hy.
Verdwerg deur hierdie bergspitse op die gesigseinder, het hy deur dorpies gestap totdat hy uiteindelik die pragtige dorpie genaamd Namche Bazar, die hart van die Khumbu-streek en tuisdorp van die Sherpas, bereik het. “Dit het my drie dae van tot ses uur se stap per dag gekos, terwyl ek in die dorpies Phakding en Monjo oornag het. Van daar af het ek langs die Dudh Kosirivier gestap wat tot by Mount Everest strek, totdat ek die hoë Everest-uitkykpunt bereik het – die einde van my reis, waarna ek na Lukla teruggestap het om van daar af na Katmandu en Suid-Afrika terug te keer,” vertel hy. Hierdie ekspidisie is die eerste eksplorasie wat die teenwoordigheid van giste in die Everest-gebied bepaal het. Resultate sal in gesamentlike projekte met belangstellende universiteite in Nepal gebruik word.