Die universiteit se Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) het ‘n toekenning van US$820 000 (omtrent R8 miljoen) van die Kresge-stigting ontvang vir hulle Suid-Afrikaanse Opname van Studentebetrokkenheid (SAOSB)-navorsingspan.
Die SAOSB-navorsingspan is daartoe verbind om studentetoegang suksesvol te bevorder deur gehalte-onderrig en leer institusioneel te versterk en deur die gesamentlike impak van studentesukses nasionaal te bevorder.
Met hierdie driejaarprojek beoog die SAOSB-span om ‘n reeks diep gekontekstualiseerde en wêreldwyd gestandaardiseerde studentebetrokkenheidsmaatreëls te voorsien wat gebruik kan word op institusionele en module/kursusvlak vir die Suid-Afrikaanse konteks. Die inligting van hierdie maatreëls kan gebruik word om die gehalte van voorgraadse onderrig en leer te verbeter, en deelnemende instellings sal toegang hê tot toepaslike kapasiteitsontwikkelingsintervensies wat hulle in staat sal stel om die inligting te gebruik om bewysgebaseerde verandering by hulle instellings te bevorder.
Dr Francois Strydom, Akademiese Direkteur by die SOL, sê die lesse wat uit hierdie hoëronderwysprojek geleer is, kan gebruik word om ‘n sterker naskoolsektor te ontwikkel wat die land kan help om die yslike probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek; dit sal gelykheid, sosiale geregtigheid en ‘n voorspoedige demokrasie in Suid-Afrika bevorder.