UV-navorser naaswenner in 2014 Vroue in Wetenskap-toekennings

0
611

Prof Jeanet Conradie, professor in die Departement Chemie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), was die naaswenner in die senior kategorie vir Uitnemende Vrouenavorsers: Fisiese en Ingenieurswetenskappe, van die Departement Wetenskap en Tegnologie se 2014 Vroue in Wetenskap-toekennings. Vroulike wetenskaplikes en navorsers word met hierdie toekenning aangemoedig en beloon, en dien as voorbeeld vir jonger vroue.

Wetenskap en navorsing, waardeur nuwe konsepte ontdek word, is haar groot passie. Danksy hierdie groot belangstelling in die wetenskap, het prof Conradie in haar voorgraadse jare ‘n verskeidenheid uiteenlopende vakke bestudeer, wat haar toegerus het met ruim kennis en die nodige agtergrond vir haar huidige belangrikste navorsingsbelangstelling, wat ‘n kombinasie van verskeie wetenskaplike rigtings behels. Haar PhD-graad in Chemie, sowel as haar sterk agtergrond in Fisika, Rekenaarwetenskap, Wiskunde en Toegepaste Wiskunde het ‘n invlpoed gehad op haar keuse van navorsingsbelangstelling en kundigheid, om geleidelik te ontwikkel in die rigting van rekenaarchemie, wat ‘n pragtige kombinasie van chemie en fisika is.

Vandag is prof Conradie se navorsingskundigheid op die gebied van rekenaarchemie, waar sy van die superrekenaar en toepaslike sagteware gebruik maak om die gedrag van atome en molekules in die werklike lewe na te boots, te verstaan en te voorspel. Die gebruik van rekenaarchemie maak dit moontlik om chemiese reaksies en verskynsels te bestudeer wat onmoontlik of te gevaarlik is om met eksperimente te bestudeer. Haar navorsingspan doen ook eksperimentele werk in die laboratorium wat met die rekenaarontleding gekombineer en vergelyk word. Nuwe materiaal met spesifieke eienskappe word ontwikkel, gebaseer op die resultate wat verkry word.

“Ons is baie trots op prof Conradie. Hierdie toekenning is die gevolg van 14 jaar se harde werk, waarvan baie na kantoorure gedoen is. Ons is bevoorreg om iemand soos jy as kollega te hê wat leiding aan studente en skoliere eerste stel in navorsing, klasgee en gemeenskapsdiens,” het prof André Roodt, Hoof van die Departement Chemie aan die UV, gesê.

Prof Corli Witthuhn, Viserektor: Navorsing, sê: “Deur haar motivering, produktiwiteit en dryfkrag, dien prof Conradie as rolmodel vir jonger akademiese navorsers in hoër onderwys. Sy dien ook as voorbeeld van hoe vroulike wetenskaplikes die toppunt van hulle loopbane kan bereik met fyn voetwerk tussen professionele en gesinsverpligtinge. Hierdie is welverdiende erkenning vir haar uitnemende navorsingsprestasies.”

-Supplied