UV mediese studente dien gemeenskap

0
700
Die groep wat die tweedehandse klerewinkel by die Tweetoringkerk opgeknap het, is voor Wian Esterhuyse en Ruben Fraser; agter van links, Jaco de Beer, Johan Swanepoel, Mpumelelo Dladla, Lethu Kwinana, Etienne Erasmus, Marja-Lise Nel en Marili Meyer. FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Mediese studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) sien die vrug op hul harde werk regoor Bloemfontein in die resultate wat verskillende uitreike na die gemeenskap oplewer.

Die eerste groep het die afgelope naweek die tweedehandse klerewinkel by die Tweetoringkerk in die middestad “geopen”.

Een van die studente, Etienne Erasmus, het aan Bloemfontein Courant vertel dat dat die Tweetoringkerk se ligging maak dit die middelpunt vir minderbevoorregte en kwesbare individue van die Bloemfonteinse middestad vir hulp. Hy sê dat daar by die kerk ‘n nie-winsgewende organisasie is wat een keer per maand tweedehandse klere op ‘n Saterdag teen uiters lae pryse verkoop in ‘n poging om geld vir die organisasie in te samel.

“Hierdie verkope het informeel plaasgevind, gewoonlik van hand tot hand, en die kerk se hele galery is vol klere. Ons groep het gedink dat dit goed sou wees om een van die stoorkamers agter in die kerk in ‘n tweedehandse klerewinkel te omskep en sodoende die verkoopsproses te verbeter.” Erasmus het verder verduidelik dat die nuwe winkel nou drie dae per week klere sal verkoop, in plaas van die een keer per maand soos in die verlede.

Hulle sal dus nou ‘n permanente winkel hê wat hul kontantvloei aansienlik sal verbeter. “Ons het die tweevertrek-stoorkamer geverf en ook kaste vir die klere gemaak.”

Die opheffingsgemeenskapsprojek by Omega-ouetehuis is voor, Yi-Chia Lee en Mario Vieira; agter van links is Aqeel Hatia, Muhammad Randeree, Khayam Saleem, Mustaffa Zakhura, MJ Peer, Adrian van Niekerk en Clarissa Claasen. Afwesig: Sare Kritzinger.

Nog ‘n groep is besig met ‘n opheffingsgemeenskapsprojek by Omega-ouetehuis in Heidedal. Mario Vieira het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle in Oktober verlede jaar begin het met die projek wat teen die einde van hierdie maand klaar sal wees.

“Tot dusver het ons basiese gesondheidsorg gebied om te bepaal of daar onopgemerkte probleme is. Ons het ‘n mondhigiëne-dag gehad waar ons inwoners geleer het hoe om hul monde te versorg.”

Hy vertel verder dat hulle ‘n braaidag aangebied het waartydens hul groep 12 vrugtebome by Omega geplant het. “Ons is nou besig om ‘n splinternuwe gasstoof en ‘n nuwe sonkragmasjien te installeer.”

Die groep wat by die Lethabo-dagsorgsentrum in Grasland geplaas is, is voor van links Janiel du Toit, Matshidiso Mothese, Vuyelwa Notuku, Mamponeng Makole, Amorie Joubert, Theresia Moholoki en Ipeleng Khunou; agter van links is Emile Coetzee, Curvin Mathebula, Safiyyah Matthews, Thenjiwe Mkwanazi, Dirk Staats, Carla-mari da Silva en Selina Keta (ouma).

Die derde groep se opdrag was om by die Lethabo-dagsorgsentrum in Grasland ‘n bydrae te lewer. Volgens Janiel du Toit het hulle aan vier onderwysers by die sentrum ‘n gekwalifiseerde noodhulpkursus gegee om die veiligheid van die skool te verhoog.

“Ons het vir hulle ‘n boekie gegee wat verduidelik hoe om kos reg voor te berei vir die kinders en ons is besig om ‘n toegeruste badkamer vir die skool, met behulp van ‘n private onderneming te organiseer, omdat hulle geen badkamers op die perseel het nie.” – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za