UV gooi gewig agter Jes Foord-stigting

0
2122

Maricelle Botha

Te midde van nasionale en internasionale reaksie ná die grusame bendeverkragting van Anene Booysen en talle ander wat sedertdien aangemeld is, het die Universiteit van die Vrystaat onlangs hul gewig agter dié van die Jes Foord-stigting ingegooi. Die stigting is in 2009 deur Jes Foord op die been gebring nadat sy in 2008 deur vier mans verkrag is terwyl sy en haar pa met hul honde by die Shongwenidam naby Durban gaan stap het. As deel van die projek het die universiteit verlede week 100 handsakke aan ’n plaaslike sentrum vir verkragtingslagoffers geskenk. Elke handsak was gevul met toiletware wat ’n slagoffer ná so ’n traumatiese ervaring kan ondersteun. Die Hoof van die UV se Gesondheids- en Welstandsentrum, Estelle Heideman, sê dat dit van groot belang vir die universiteit is om by ‘n gevestigde instansie soos die Jes Foord-stigting betrokke te raak.

“Die universiteit is die ideale plek om só ’n projek te begin omdat ons met so baie jongmense werk. As ons na die statistieke van ons sentrum vir verkragtingslagoffers kyk, is daar baie jongmense tussen die ouderdom van 17 en 24 wat elke maand verkrag word wat net sowel een van ons studente kan wees,” motiveer Heideman. Foord, wat ook die geleentheid bygewoon het, het op haar beurt gesê dat dit verskriklik jammer is dat meisies eers hul lewens moes verloor voordat die regering, die gemeenskap of enigiemand na vore gekom het om standpunt in te neem. Sy het bygevoeg dat daar elke 17 sekondes iemand in die land verkrag word en het gevra hoekom ons tot nou gewag het om na vore te kom.

“Siende dat die platform nou geskep is, hoewel onder hierdie aaklige omstandighede, moet ons nou op die lawaaiwa klim en van ons laat hoor. Ek dink genoeg is genoeg. As gemeenskap moet ons sê dat ons siek en sat is vir wat tans aan die gang is en dat ons nodig het om verandering te sien. Nie net gedagtes van verandering of planne deur die regering nie, dit moet werklik geïmplementeer word,” het Foord gesê.