UV gereed vir moontlike protesoptrede

0
673

"Die Universiteit van die Vrystaat is gereed vir enige moontlike studenteproteste tydens die jaarlikse registrasieproses en het gebeurlikheidsplanne in plek in só geval." 
Dit is volgens die Universiteit se woordvoerder, Lacea Loader. Haar opmerking volg nadat studente aan die Universiteit van Johannesburg in Gauteng Maandag geëis het dat registrasie op die terrein self moet plaasvind en nie aanlyn nie. Studenteleier van die Universiteit van Johannesburg, Lindokuhle Xulu, het gesê dit is onregverdig dat studente van townships wat geen toegang tot die internet het nie gedwing word om aanlyn te registreer. 
Loader sê die registrasiedatums vir die universiteit se drie kampusse, waarvan twee in Bloemfontein en een in Qwaqwa is, verskil. 

Die datums is aanlyn by die universiteit se webtuiste beskikbaar, sê Loader. "Nie-residensiële senior studente wat in Bloemfontein studeer kan van 5 tot 11 Januarie in die Callie Human-sentrum of aanlyn registreer, terwyl koshuisinwoners van 25 tot 29 Januarie kan registreer."

Loader sê nuweling-eerstejaarstudente kan van 18 tot 22 Januarie registreer. "Die verwelkoming van eerstejaarstudente vind op 15 Januarie om 18:00 op die Rooi Plein voor die hoofgebou plaas. Die volgende dag sal daar ook van 9:00 tot 12:00 oriëntasie by die verskillende fakulteite wees." – Dane Beisheim
 

dane@centralmediagroup.co.za