UV gaan een van drie wêreldberade oor kristallografie aanbied

0
UV gaan een van drie wêreldberade oor kristallografie aanbied

Prof André Roodt van die Departement Chemie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het as president van die Europese Kristallografie-vereniging ‘n spesiale gedenkplaat in Poznan, Pole, onthul ter nagedagtenis aan die Nobelpryswenner Max von Laue.
Max von Laue, wat sy vroeë kinderjare in Poznan deurgebring het, was die eerste wetenskaplike wat X-strale met ‘n kristal gediffrakteer het.
Die Verenigde Nasies het 2014 verklaar as Internasionale Jaar van Kristallografie. Dit is onlangs amptelik by die UNESCO-hoofkwartier in Parys, Frankryk bekendgestel deur die Sekretaris-Generaal van die VN, Ban Ki-moon. Die Internasionale Jaar van Kristallografie vier die eeufees van die werk van Max von Laue, sowel as die pa en seun, William Henry en William Laurence Bragg.
As deel van die feesvieringe, is prof Roodt, president van die Europese Kristallografie-vereniging, wat een van die drie streeksgeaffilieerdes (die Amerikas, Europa en Afrika; Asië en Australasië) van die Internasionale Unie van Kristallografie (IUCr) is, deur die president van die IUCr, prof Gautam Desiraju, genooi om een van die drie wêreldberade aan te bied, waartydens kristallografiese prestasies ten toon gestel sal word en strategiese beplanning vir die toekoms gedoen sal word.
Die beraad en konferensie sal van 12 tot 17 Oktober 2014 op die Bloemfontein-kampus van die UV plaasvind en is getitel: ‘Crystallography as vehicle to promote science in Africa and beyond.’ Dit is ‘n ambisieuse byeenkoms waar die Frans-, Engels- en Arabiessprekende nasies van Afrika na verwagting bymekaar sal kom vir strategiese beplanning oor maniere waarop die wetenskap uitgebrei kan word en om moontlikhede hiervoor te bied, soos vervat in kristallografie. Jong, sowel as gevestigde wetenskaplikes, asook politici wat gemoeid is met die wetenskap en wetenskaplike bestuur, is die teikengehoor wat in Bloemfontein bymekaar sal kom.
Dr Thomas Auf der Heyde, waarnemende Direkteur-generaal van die Suid-Afrikaanse Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT), het sowat R500 000 vir hierdie poging bewillig, terwyl die Internasionale Unie van Kristallografie R170 000 verskaf het.
“Kristalle en kristallografie vorm ‘n belangrike deel van ons daaglikse lewe, vanaf bene en tande, tot medisyne en virusse, nuwe katalisatore, juweliersware, kleurpigmente, sjokolade, elektronika, batterye, metaallemme in vliegtuigturbines, panele vir sonkrag en baie meer. Ten spyte hiervan, weet baie mense ongelukkig nie veel van X-straal-kristallografie nie, hoewel dit waarskynlik een van die grootste vernuwings in die twintigste eeu is. Die bepaling van die struktuur van die DNA was een van die belangrikste wetenskaplike gebeurtenisse in die 20ste eeu. Dit het ons gehelp om te verstaan hoe genetiese boodskappe tussen selle in ons liggame oorgedra word – alles, vanaf die manier waarop instruksies na proteïene gestuur word om infeksies te beveg, tot hoe lewe gereproduseer word.
“By die UV vind kristallografie toepassing in Chemie, Fisika, Biologie, Wiskunde, Geologie, Ingenieurswese, sowel as die Mediese vakrigtings. Kristallografie word deur die Curiosity Rover gebruik om stowwe en minerale op Mars te ontleed!
“Veral die UV se Departemente Chemie en Fisika beskik oor gevorderde instrumente en belangrike navorsingsfokuspunte waarvan X-straal-kristallografie reeds vir meer as 40 jaar ‘n sentrale deel vorm.
“Kristallografie het sowat 28 Nobelpryswenners oor die afgelope 100 jaar opgelewer en verskaf steeds die middele vir basiese en toegepaste navorsing,” het prof Roodt gesê.
Prof André Roodt (president van die Europese Kristallografie-vereniging), navorser in X-straal-kristallografie aan die UV en dr Alice Brink, dosent in Chemie en Jong Prestige-navorser aan die UV, bewonder die model van ‘n komplekse kristal.

No posts to display