UV betreur heengaan van akademiese reus

0
142
Prof Jaap Steyn

Prof Jaap Steyn van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat hierdie week oorlede is, sal deur sy kollegas onthou word as ‘n fenomenale akademikus, ‘n nederige en lojale kollega en vriend en ‘n ware heer wat positief bygedra het tot die Suid-Afrikaanse taallandskap.

Sy loopbaan het in 1959 as joernalis, vertaler en subredakteur by Volksblad begin en in 1968 is hy aangestel as dosent en later senior lektor aaan die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1974 het hy deel van die redakteurspersoneel van Rapport geword en van 1975 tot 1985 was hy senior lektor en medeprofessor (Randse Afrikaanse Universiteit) en professor-navorser aan die UV.

Luidens ‘n persverklaring van die UV het prof Steyn gedurende sy loopbaan byna 100 artikels in geakkrediteerde tydskrifte geskryf, verskeie referate tydens internasionale konferensies gelewer en honderde koerantartikels oor taal gepubliseer. Gedurende sy loopbaan het hy besondere taalgevoeligheid en ‘n belangstelling in die Suid -Afrikaanse en Afrikaanse konteks gehad. Prof Steyn is bekend as ‘n skrywer van hoog aangeskrewe biografieë, maar sy gepubliseerde digbundels en ander literêre werke is bewys van sy merkwaardige veelsydigheid.

Sy eerste akademiese boek, Tuiste in eie taal is bekroon met die Rect Malan-prys en die Louis Luyt-prys. Die Recht Malan-prys is vir die tweede keer aan hom toegeken vir N.P. van Wyk Louw – ’n lewensverhaal. Ander pryse sluit in die Stalsprys (vir NP van Wyk Louw -’n lewensverhaal), die Louis Hiemstra-prys (Die honderd jaar van M.E.R.), die Insig-prys, die Jan H. Marais-prys asook die C.J. Langenhoven-prys.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za