’n Argitektuurstudent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), Lúnell Greyling, het as streekwenner van die 35ste Corobrik Student Architecture Awards weggestap.
Dié Corobrik-argitektuurtoekennings het in 1986 begin en is die enigste kompetisie in sy soort vir argitektoniese meestersgraadstudente in Suid-Afrika. Greyling se innoverende projek om ‘n skeepswrak-interpretasiesentrum by Kaap Agulhas te ontwikkel om vergete skeepswrak-tragedies te bewaar, het haar die oorwinning besorg.
Sy het verduidelik hoe sy deur die wrak van die Japanse vissersboot Meisho Maru No. 38 geïnspireer is, wat op 16 November 1982 langs die Kaapse Agulhaskuslyn gestrand is. “Ons dink nooit twee keer oor die tragedies van diegene wat op die see verlore geraak het nie. Dit is dus belangrik om hierdie herinneringe te bewaar, wat my geïnspireer het om te skryf oor argitektoniese ruimtes wat dien as ‘n platform wat skeepswrakgebeure interpreteer en oorvertel,” het Greyling gesê.
Sy het bygevoeg dat argitektuur vir haar meer as net geboue is. “Dit kan mense inspireer, opvoed en bymekaar bring en verskille deur gedeelde ruimtes oorbrug. Argitektuur wat hom in ’n spesifieke plek wortel, wanneer dit plaaslike en tradisionele kuns en materiale met kontemporêre boumetodes kombineer, kan sinvol en sensitief vir die plek en verlede wees, maar met die toekoms in gedagte,” het Greyling gesê. Greyling het nie net ‘n prys van R10 000 ingepalm nie, maar het ook die geleentheid gekry om vir die nasionale toekennings mee te ding.
Sy het bygevoeg dat dit ‘n voorreg en “uiterste eer” is om ‘n streekwenner te wees. “Dit is ook ‘n wonderlike gevoel om te weet dat al die harde werk en passie wat ek in die proefskrif ingesit het, vrugte afgewerp het,” het Greyling gesê.
Pierce van Heerden