Tydens ‘n gradeplegtigheid op 18 Mei 2014 in Vermont, VSA, is ‘n eredoktorsgraad in Lettere deur die Universiteit van Vermont aan die Visekanselier en Rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), prof. Jonathan Jansen, toegeken.
Prof Jansen is vereer vir die uitmuntende werk wat hy deur verskillende inisiatiewe in Suid-Afrika en in die buiteland gedoen het. Die Universiteit van Vermont het veral klem gelê op die Leierskap vir Verandering-program, waardeur twee groepe eerstejaarstudente van die UV na die UVM gestuur is en blywende bande sodoende tussen die studente en personeel van albei instellings gesmee is. "Ek is verheug en dankbaar oor die internasionale erkenning vir die werk van die UV en my beskeie aandeel daarin," het hy gesê.
Prof Jansen was een van sewe ontvangers van ‘n eredoktorsgraad, waarvan Samantha Power, die VSA se ambassadeur by die Verenigde Nasies en lid van president Barack Obama se kabinet, een was.
Die UVM se motivering vir die eredoktorsgraad lui: “Jonathan David Jansen is ‘n vooraanstaande openbare intellektueel in Suid-Afrika, wat bekend is vir sy vurige toewyding tot die onderwys, maatskaplike geregtigheid en die versoeningsproses. As Visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV) skep sy leierskap en baanbrekerswerk eenheid in die diverse akademiese gemeenskap en in die transformasie van die kampusatmosfeer. As internasionale kenner, leier in hoër onderwys, geleerde en onderwyser, inspireer en voed professor Jansen die volgende geslag van wêreldleiers op.”
Prof Jansen het in 2010 ‘n eredoktorsgraad in Opvoedkunde van die Cleveland Staatsuniversiteit, ook in die VSA, ontvang.
– Verklaring