Universitas dokters se RWOPS-aansoeke van die hand gewys

0
742

LANI FOUCHÉ

Dokters wat in groepspraktyke by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein werk, se aansoeke om steeds van die sogenaamde RWOPS-stelsel gebruik te maak, is almal van die hand gewys.

Die vereniging van staatsamptenare se Gerhard Koorts sê hy verstaan dit nie, omdat dié dokters nog al die jare die stelsel en sy reëls gehoorsaam, terwyl sommige dokters in enkelpraktyke die stelsel misbruik.

Die RWOPS-stelsel laat staatsdokters toe om bykomende private werk te doen. Koorts sê hulle sal steeds die saak in die arbeidshof betwis.

"Dis vir ons as vakbond ook baie vreemd dat ons die naam deurgee van ‘n dokter wat sekfs oortyd eis vir sy privaat pasiënte, maar daar’s nog niks aan hom gedoen nie.  Nou weet ons nie watter erns die departement het om hierdie wanbestuur van RWOPS hok te slaan nie. Ons het vir ons prokureurs gesê om voort te gaan – hierdie sal in die hof betwis word.  Dis nou jammer, maar ons kan nou niks meer en niks minder doen nie."

Vrystaatse LUR vir gesondheid, Benny Malakoane, het vroeër vanjaar aangekondig dat staatsartse met onmiddellike effek nie meer private pasiënte in hul werksure mag sien nie.

‘n Dringende hofbevel is egter kort daarna deur die Vrystaatse hooggeregshof toegestaan wat dié opdrag tydelik ter syde stel, hangende ‘n hersiende aansoekverslag van die LUR.