Uitspraak sal vanoggend gelewer word in die saak teen Kadisang Michael Moema wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n kankerpasiënt in 2011 verkrag het toe hy ‘n werknemer by die Universitas Annex was. Die 51-jarige Magda Lombard het Moema daarvan beskuldig dat hy haar verkrag het met die hulp van ‘n vroulike verpleegster wat haar vasgehou het. Sy is enkele weke na die beweerde insident oorlede.
Die hof het verskeie getuienis verlede week gehoor, insluitend ‘n forensiese deskundige se getuienis dat manlike DNA by Lombard gevind is. Die DNA was egter nie genoeg om aan ‘n spesifieke verdagte te Koppel nie. Ander hospitaalwerknemers het weer getuig dat Lombard soms hallusineer het en nie tussen feit en fiksie kon onderskei nie.
Die matrone wat op diens was die nag na die beweerde verkragting, Dipuo Matobisa, het Maandag getuig dat Lombard daardie nag beweer het sy is weer verkrag. Staatsaanklaer Amanda Bester het aan Matobisa uitgewys dat dit teenstrydig is met ‘n ander getuie se verklaring, maar Matobisa het by haar getuienis gehou
Die verpleegster, Janette Kgoane, was ook hierdie week in die getuiebank. Lombard het aanvanklik aan haar man gesê Kgoane was die medepligtige. Kgoane het getuig dat sy Moema wou beskerm “omdat Lombard sê ons het haar verkrag.” Sy het ontken dat sy of Moema skuldig is aan die beweerde misdrywe. Bester het aan die hof gesê dat Kgoane se getuienis nie in ag geneem kan word nie, omdat sy openlik erken dat sy vir Moema wil beskerm. Sy het Regter Faan Hancke gister gevra dat Moema skuldig bevind word op een aanklag van verkragting en een van poging tot verkragting.
Uitspraak word vanoggend in die Vrystaatse Hooggeregshof gelewer.