Uitspraak in Mangaung-hoogverraadverhoor na verwagting vandag gelewer

0
614

SABRINA DEAN – Die Vrystaatse hooggeregshof lewer na verwagting vandag uitspraak in die Mangaung-hoogverraadverhoor.

Johan Prinsloo staan tereg op aanklagte van hoogverraad, sameswering om terreurdade te pleeg en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Hy en drie ander mans is op 16 Desember 2012 in hegtenis geneem weens ‘n beweerde plan om afgevaardigdes by die ANC se Mangaung-kongres, enkele dae later, aan te val.

Een van die beskuldigdes, Mark Trollip, het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan terwyl aanklagte teen ‘n ander beskuldigde laat vaar is. Die derde verdagte, Martin Keevy, is onverhoorbaar verklaar.

Regter Mojalefa Rampai sou verlede maand uitspraak lewer, maar hy moes op dié dag in Kaapstad wees vir ‘n werksonderhoud. Hy was in aanmerking vir die pos van Vrystaatse regter-president.

Die verhoor is toe vir vandag op die rol geplaas.