Uitblinker se droom begin by Kovsies

0
806

Lani Fouché

Vir Zandile Kwela was skoolgaan nie grappies nie. Sy moes tot laat saans op ’n harde skoolbank sit en swot omdat haar hut in ’n KwaZulu-Natal township té klein was vir haar en agt ander familielede. “Ek kon nie daar leer nie, dit het té veel geraas. Ek het maar by die skool geleer, en my seunsvriende het soms saam met my huis toe gestap om my te beskerm.”  Kwela se uithouvermoë en inspirerende selfdissipline het vir haar ’n spesiale plekkie in professor Jonathan Jansen se hart losgeslaan.  Nadat sy vanjaar gehoor het dat sy sewe onderskeidings behaal het, was sy verbaas om ’n oproep van die Universiteit van die Vrystaat se rektor te ontvang. “Hy het gesê ek moet by Kovsies kom swot – hy sal vir alles betaal! Ek kon my geluk nie glo nie,” vertel Kwela. Nou kan haar toekomsdrome waar word – om die eerste lid in haar familie te wees met ’n graad en om eendag vir haar ouers ’n groot huis te kan koop.

Sy gaan B.Rek studeer, en sien ook uit daarna om vir die eerste keer aan ’n swemspan te behoort. “Ek hou van swem, ek dink nou dat ek toegang tot al hierdie kanse het, gaan ek begin swem!”  Prof. Jansen het gereël dat die UV vir Kwela se verblyf by Emily Hobhouse betaal, haar daaglikse etes, haar boeke en studies, asook vliegkaartjies elke vakansie na haar tuisdorp, Umlazi. “My ma het net gehuil,” sê Kwela oor die oomblik wat haar ma van haar jongste spruit se blink toekoms te hore gekom het. Sy het – op Jansen se onkoste – saam met haar dogter na Bloemfontein gevlieg om haar by die universiteit af te sien. Jansen sê dit het hom opgeval hoe baie Kwela se ma hom aan sy eie wyle ma herinner. “Hulle lyk presies eenders, mens kan dit dadelik sien!” meen Jansen.

Haar broer en suster het nie skool voltooi nie, maar Kwela het vroeg in haar skoolloopbaan besluit om tot die beste van haar vermoë te presteer. Wat het haar gedryf?   “My situasie het my gemotiveer. Ek het besluit dat ek wil wegbreek – ek wil iets met my lewe maak. Dis hoekom ek so hard geleer het op skool.” En as sy nie die beurs by Jansen gekry het nie?   “Ek weet nie wat ek sou doen nie. My ouers het nie geld om vir nagraadse studies te betaal nie. Ek sou maar oral aansoek gedoen het vir beurse en gehoop het vir die beste.”  Jansen se oë blink wanneer hy na Kwela kyk. “Ek sien niks van myself in haar nie. Ek was glad nie so slim op skool nie, en ek was lui. Hierdie jong dame is merkwaardig.”

Hy sê Kwela is gekies oor twee redes: Eerstens omdat sy ’n uitblinker is en ’n aanwins vir die universiteit, en tweedens omdat dit deel vorm van die universiteit se liefdadigheidsprogram.
“Ons soek kinders wat uit moeilike omstandighede kom en bo dit uitgestyg het. Zandile is die perfekte kandidaat, en ons is bly ons kan haar help.”