Uilhuis se Helen op pad

0
Uilhuis se Helen op pad

Maricelle Botha

Die Karoo-kunstenaar, Helen Martins (1897 – 1976), het die verbeelding oor die jare aangegryp en elke jaar stroom plaaslike sowel as buitelandse besoekers na die Karoodorpie Nieu-Bethesda om ‘n stukkie van haar lewe en haar werk te ervaar.
Martins, wat bekend was vir haar eksentrisiteit, het die Uilhuis op die dorp geskep as ontvlugting van haar ondermaanse lewe. Die Uilhuis was Helen se tuiste vir bykans 78 jaar. Gedurende die laaste 30 jaar van haar lewe het sy al haar energie gewy aan die skep van ’n huis vol van glansryke fantasie in kleur en lig en ’n tuin met meer as 500 byna groteske sementbeelde.

Nou bring twee Bloemfonteiners, Gerben Kamper en Naòmi Morgan, vir Helen van Bethesda na die Rosestad met die gelyknamige teaterproduksie. Die stuk is deur Morgan geskryf, terwyl Kamper die regie behartig. Jana Coetzer sal te sien wees in die rol van Martins. Dit is die gegewe van Helen van Bethesda, wat losweg slaan op “Helen of Troy”; op stede en dorpe wat se lot deur ‘n vrou bepaal word; op opoffering wat lei tot redding (hier, van die dorp Nieu-Bethesda).

Kamper beskryf die stuk as ‘n monoloog met stembegeleiding. Hy vertel dat Morgan dit aanvanklik as ‘n radiodrama met byklanke geskryf het. Dit is dan ook hoe Kamper die regie van hierdie stuk benader het. "Naòmi het eintlik al in die negetiger jare dié teks vir my gegee om na te kyk. Ek het nooit daarby uitgekom nie en toe ek onlangs na ‘n nuwe teaterstuk begin soek het, het ek weer daarop afgekom," vertel hy. Dit is egter nie die eerste keer dat dit opgevoer word nie, maar wel die eerste keer dat dit ‘n 100% plaaslike produksie is. Kamper sê dat daar in die stadium nog geen planne is om die produksie op ander plekke op te voer nie, maar meen dat indien plaaslike gehore ‘n goeie aanduiding gee dat hulle dit geniet, hy dit wel sal oorweeg.

Die speelvak is van 26 tot 28 Maart om 19:30 in die Wynand Mouton-teater. Kaartjies kos R30 by Computicket.

No posts to display