Die lewenswaardes waarmee ek grootgeword het, was tipies van daardie tyd. Ons ouers het in die depressiejare opgegroei. Hul geslag is later The Silent Generation genoem. Kinders word gesien en nie gehoor nie. Hou jou bek en doen jou werk.
Hiermee saam het die onbuigbare reëls oor besparing gekom. Jy skakel nie ligte aan voordat dit donker is nie. Jy sit die lig af as jy uitloop. Jy eet al jou kos. Niks word vermors nie. Ek onthou selfs hoe my pa, as ons met vakansie gegaan het, altyd die kar teen ‘n afdraande in neutral sou sit en dan berg-af free, soos ons kinders dit genoem het.
In ‘n stadium het hierdie oormatige spaarsaamheid, wat ek as vrekkigheid beskou het, my intens geïrriteer. Ek en my pa het later jare ‘n hele paar keer geredekawel hieroor. “Pa het genoeg geld,” sou ek sê. “Geniet die lewe!” Waarop hy, altyd die bankbestuurder, sou antwoord: “Jy moet oppas dat jy nie eendag langer leef as jou geld nie.”
Hoe ek ook al geglo het dat ek anders sou wees, moet ek vandag bely dat hierdie appeltjie toe nie so ver van die boom af geval het nie. Ek kom deesdae dikwels met ‘n skok agter hoedat ek nes my pa geword het. Ek loop heeldag en ligte afsit. Ek eet gereeld vrugte en groente in die yskas wat begin afgaan, omdat ek bang is dit beland in die asblik. Ek free darem nog nie teen die afdraandes af nie!
Dit kan hande uitruk. Ek het onlangs Langehovenpark toe gery, 25 km heen en terug, om twee bottels gesuiwerde water te gaan koop wat tien sent per liter goedkoper was. My ma het graag die uitdrukking penny wise, pound foolish gebruik.
Maar die ergste was toe my vrou nou die dag vra waarom ek elke oggend met die heel kleinste handdoekie afdroog terwyl die lekker groot badhanddoek daar hang. Ek was glad nie bewus dat ek dit doen nie. “Ek probeer bespaar,” stamel ek. “Jy moet jou kop laat lees,” was haar antwoord.
Dalk is dit tyd vir ‘n bietjie selfondersoek.
ALBÉ GROBBELAAR