Tweedelaan-erf ’n broeiplek vir misdaad

0
678
Die oop stuk grond in Westdene wat ’n broeiplek vir kriminele dade geword het. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die gebied in Westdene, wat voorheen bekend was as uithangplek vir studente en jongmense deur die week en oor naweke, het verander in ‘n speelpark vir kriminele.

Die terrein in Tweede Laan, wat vir jare kuierplekke soos Seconds, Mexican en Stones gehuisves het, is in 2013 platgeslaan om ‘n nuwe, moderne ontwikkeling te begin. Dit is as een van die grootste private inisiatiewe vir herontwikkeling in dié gebied van die stad beskou, het Kaba Kabagambe, destydse hoof van die Departement van Beplanning van die Mangaung Metro reeds in 2013 gesê.

Die nuwe ontwikkeling sou die omskakeling van bestaande eiendomme en opgradering van die gebied beteken. Ruimte sou geskep word vir beperkte kleinhandel en genoeg parkering, met ‘n voetgangervriendelike uitleg. Die ontwikkeling sou spog met kafees, ‘n restaurant en gimnasium, sowel as kantore.

Vyf jaar later het die gebied, in plaas van die beplande ontwikkeling, ‘n broeiplek vir misdaad geword. Rondom die oop stuk grond word studente gereeld aangeval as hulle van of na hul motors stap, daar word ingebreek in hul motors en hul besittings word gesteel. Dit het self ‘n smousplek vir dwelms geword.

Bloemfontein Courant het by ‘n anonieme bron verneem van ‘n jong seun wat na sy motor gestap het, met ‘n glasbottel oor die kop geslaan is, geskop is, en van sy besittings beroof is. Die bron was ‘n ooggetuie van die voorval.

‘n Ander slagoffer, Vedette van Wyk, ‘n student aan die Universiteit van die Vrystaat, het vertel hoe haar telefoon uit die motor gesteel is terwyl sy en vriende in ‘n kuierplek was. “Hulle moes met die afstandbeheerstelsel gepeuter het. Toe ons die aand terugkom by die motor, het ons gesien die deure staan oop en ‘n rugsak en my selfoon was weg.”

Op navraag aan die Georgiou-groep, aan wie die stuk grond behoort, het Meryl Henning, bemarkingskonsultant, gesê die tempo waarteen misdaad in die gebied styg is ‘n groot bron van kommer vir eienaars en ontwikkelaars.

“Die oop terrein in Twede Laan word beskou as gerieflike parkering vir kliënte. Sodra dié deel afgeskort of beveilig word deur ‘n heining, sal dit nie meer so gerieflik wees nie. My voorstel is dat besighede in die omliggende gebied, sowel as die polisie, moet saamwerk om misdaad te beveg en die gebied te beveilig.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za