Tweede veldwedloop lewer 14 wenners op

0
751
RUFUS BOTHA

Die tweede veldwedloopligabyeenkoms van die Bloemfontein-streek is Vrydag op die Kovsiekampus beslis. Nie minder nie as 630 atlete het hier deelgeneem. Veertien atlete het oorwinning gesmaak by die eerste liga (8 Mei) en Vrydag wéér eerste oor die eindstreep gehardloop.

Van die 14 genoemde wenners was agt van die skoner geslag en ses was mans en seuns.

Vrydag se byeenkoms is egter gekenmerk deur die fiksheidsvlak wat Suid-Afrika se voorste 1500m- en mylatleet van alle tye, Johan Cronjé (Kovsies), in die 4km-wedloop vir senior mans tentoongestel het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse skole-veldwedloopkampioen, Windy Jonas (Kovsies), het die eerste 2km ‘n haastige pas daargestel terwyl Cronjé sowat 20 meter agter hom in ‘n bondel gehardloop het. Daarna het Cronjé die krane oopgedraai en gerieflik gewen in 12:13.
Hy het na die wedloop boonop ‘n harde oefensessie op die baan deurgewerk en dit voorspel ‘n goeie internasionale seisoen wat eersdaags vir Cronjé begin.

Die voormalige Suid-Afrikaanse 3000m-hindernisatleet, Emmanuel Mkhabela (Sibanya, 12:16), het ook vir Jonas verbygesteek vir ‘n goeie tweedeplek. Jonas, wat stadig maar seker weer tekens begin toon van ‘n opwaartse kurwe wat sy fiksheid aan betref, was derde in 12:22.

Rulf Nkhi (Nedbank Bloemfontein Achilles), wat die 8km vir mans 40 tot 44 jaar by albei ligas gewen het, lyk oorgehaal om ‘n goeie Comrades-ultramarathon in sy ouderdomsgroep kaf te draf. Hy het ter voorbereiding vir die Comrades (31 Mei) die eerste liga gewen in 26:34 en dit Vrydag opgevolg met ‘n tyd van 26:40.

Nkhi het aan Courant gesê: “Ek maak gereed en voel goed om ‘n tyd van onder die 6:30 in die Comrades aan te teken. Soos my oefeninge nou verloop is ‘n tyd van naby ses ure nie uitgesluit nie”.

Rizani van Aswegen (Kovsies) het, soos Cronjé nie aan die eerste liga deelgeneem nie, maar was Vrydag op haar stukke toe sy die 4km-wedloop vir senior vroue loshande in 14:45 gewen het.

Sy het vir Annah Moeketsi (Transnet, 15:37) en Maryna Swanepoel (Eskom, 15:47) goed laat lesopsê vir hulle onderskeidelike tweede- en derdeplek.

Ander atlete wat by die eerste én tweede liga gewen het, is:

Meisies: 9 jaar: Carlé Stockenstroom (Willem Postma), 11 jaar: Carissa Erasmus (Fichardtpark), 14 jaar: Chandré Erasmus (Jim Fouché), 15 jaar: Sinah Khauta (Lereko), 16 jaar: Lara Orrock (Aliwal-Noord).

Vroue: 22 jaar: Ezanne Kleynhans (Kovsies), 40 tot 44 jaar: Leana Esterhuizen (Bloemfontein Striders), 45 tot 49 jaar: Jenna Mclachlan (Pentagon Pistols).

Seuns: 12 jaar: Tshepiso Lemao (Relebeletse), 16 jaar: Joseph Mokoteli (Louis Botha), 17 jaar: Nope Moleyane (Louis Botha).

Mans:
45 tot 49 jaar: Matumpule Magage (Nedbank Bloemfontein Achilles), 60 tot 64 jaar: Basil Kinghorn (Nedbank Bloemfontein Achilles).