Tweede termyn vir Khotso Mokhele

0
2061

Die Raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het dr. Khotso Mokhele tydens sy vergadering op 13 Maart 2015 eenparig as kanselier heraangestel. Hy is op 4 Junie 2010 vir die eerste keer deur die raad in hierdie portefeulje aangestel.

"Dit is vir die raad ‘n eer om iemand van hierdie formaat as kanselier van die UV aan te stel. Met sy stewige akademiese agtergrond en hoë profiel in die sakewêreld, is dr. Mokhele ‘n groot bate vir die UV. Namens die raad en die universiteitsgemeenskap spreek ek my waardering uit vir die werk wat hy gedurende sy eerste termyn as kanselier van die UV gedoen het. Hy is ‘n uitsonderlike leier en die universiteitsgemeenskap sien uit daarna om hom vir ‘n tweede termyn as kanselier te hê," het regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-Raad, gesê.

Mokhele het sy BSc-graad in Landbou aan die Fort Hare-universiteit verwerf en het daarna sy studies met behulp van die Fulbright-Hays-studiebeursprogram aan die Universiteit van Kalifornië Davis (VSA) voortgesit, waar hy sy MSc in voedselwetenskap) en PhD in mikrobiologie voltooi het. Hy was daarna ‘n postdoktorale genoot aan die Johns Hopkins-universiteit se skool vir geneeskunde (VSA) en die Universiteit van Pennsilvanië se skool vir geneeskunde (VSA). Mokhele is die ontvanger van eredoktorsgrade van nege Suid-Afrikaanse universiteite, waaronder die UV en die Rutgers-universiteit in die VSA.

Hy was voorsitter van die Rhodes-studiebeurskeurkomitee vir Botswana, Malawi, Namibië, Lesotho en Swaziland (2007-2011), en het vir meer as 10 jaar in die keurkomitee van die Mokhele gedien. Tans is hy spesiale raadgewer vir die minister van wetenskap en tegnologie, Naledi Pandor. Sy huidige korporatiewe ampte sluit in: Nie-uitvoerende voorsitter: Raad van Direkteure, Impala Platinum Holdings Bpk (Implats); Hoof- onafhanklike nie-uitvoerende direkteur: African Oxygen Bpk (Afrox); Nie-uitvoerende direkteur van Zimbabwe Platinum Holdings Bpk (Zimplats); Hans Merensky Holdings Bpk; en Tiger Brands Bpk. Hy is president van die Hans Merensky-stigting (Suid-Afrika) en ‘n Trustee van SciDev.Net (‘n webgebaseerde wetenskaplike tydskrif met sy hoofkantoor in Londen, VK) en Start International Inc (VSA).