Tweede ‘blinkerboek’ op die rakke

0
594
Arbeidsterapeut en skrywer, Corinne Badenhorst

Arbeidsterapeut en mamma van Bloemfontein, Corinne Badenhorst, se tweede boek Blinkers vir ‘n Blomtuin is nou op die rakke.

Bloemfontein Courant het ongeveer ‘n jaar gelede oor Badenhorst se beplande boek berig. Blinkers vir ‘n Blomtuin is ‘n opvolg van haar eerste boek, Blinkerboom, wat in 2019 uitgereik is.

Badenhorst het ‘n groot liefde vir die mensdom en haar droom is vir mense om hul volle potensiaal te bereik. “Blinkers vir ‘n Blomtuin is ‘n storieboek vir ouers en kinders wat poog om deur metafore lewende steentjies karakter te bou. Die storie het ontstaan uit ‘n beeld van blinkers, dorings en ‘n blinkerboom wat groei, wat in my gedagtes opgekom het.”

Blinkers vir ‘n Blomtuin is ook ‘n bedkassiejoernaal wat vroueharte op ‘n kreatiewe manier begelei om moeilike binnekamer-vrae te beantwoord en te ontsyfer. “Jy lees die kortverhaal en daaruit kan jy al die dinge wat in die verhaal na vore kom, in die joernaal neerskryf. Daar is ook ‘n gedeelte waar jy ‘n spesifieke vraag kan antwoord en neerskryf,” vertel sy.

Volgens Badenhorst handel die boek oor “versteekte dinge” in persoonlike groei, maar dien dit ook tot aansporing om jou glans te herontdek. Sy sê haar hoop is dat ‘n vrou by ‘n plek van “tevredenheid in haarself” sal kom sodat haar oë weer die mooi in haarself kan raaksien. “Die boek praat van spreekwoordelike dorings en blinkers. Waar dorings ons ongeneesde seer, onafgehandelde sake en onopgeloste konflikte uitbeeld, terwyl blinkers wys wanneer die plekke genees. Dit is dan asof die Hemel aan jou hart kom raak het.”

Badenhorst hoop dat sy deur albei haar boeke mense kan help op hul lewensreis. Sy wil veral vroue met Blinkers vir ‘n Blomtuin bemoedig. “Almal is op een of ander reis. Hierdie is ‘n stuk gereedskap vir daardie reis.”

Sy glo ook dat as jy die skatte in jouself wil ontdek, jy soms moet gaan delf onder die toegegooide hope. “Wanneer ons dít doen, word ons vry. Genoeg. Tevrede. En dan kan ons weer hoop…” sê sy.

Anique Jordaan van die sanggroep Kaleidoskoop het ‘n lied, “Blinkerboom”, geskryf en dit is tans beskikbaar op verskeie platforms. Die boeke is beskikbaar by sekere uitgesoekte PnA-winkels of aanlyn by www.blinkerboom.co.za

Blinkerboom en Blinkers vir ‘n Blomtuin van Corinne Badenhorst

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za