Twee in VS vasgetrek nadat hulle vinniger as 230km/h ry

0
2723
Twee motoriste is oor die naweek in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat hulle die spoedgrens teen onderskeidelik 234km/h en 250 km/h oorskry het.

Die woordvoerder vir die Vrystaatse verkeersdepartement, Kabelo Moloabi, sê die eerste bestuurder is gister omstreeks 09:00 tussen Warden en Villiers in sy BMW 540i vasgetrek nadat hy 234 km/h in ‘n 120 km/h-sone gery het. Volgens Moloabi was daar ‘n passasier saam met hom in die motor.

Die 28-jarige man is intussen op borgtog van R1000 vrygelaat en moet weer op 27 Julie in die hof verskyn.

Moloabi sê later dieselfde dag teen omstreeks 12:00 is nog ‘n man by Kroonstad in ‘n BMW X5 vasgetrek. Dié man, wat glo teen 250 km/h gery het, sal more in die plaaslike landdroshof verskyn.

-Mark Steenbok