Twee Vrystaters in Protea-vrouehokkiespan in Stadsbeker

0
Twee Vrystaters in Protea-vrouehokkiespan in Stadsbeker

JONATHAN COOK

Die name van die Investec Protea-vrouehokkiespan wat in Skotland en Engeland gaan meeding, is bekend gemaak en sluit die meeste van die spelers in wat aan die drie weke lange oefenkamp in China deelgeneem het.  Volgens die Proteas se afrigter, Giles Bonnet, sal die Skotse been van die toer ook ’n toets teen Ierland op 11 Junie insluit. Daarna volg ’n toetsreeks van vier toetse teen Skotland.

Die span vertrek op 19 Junie na Londen vir die Investec Wêreldliga-halfeindtoernooi van 22 tot 29 Junie. Die Protea-span sal waarskynlik ’n opwarmingswedstryd vir die toernooi teen Argentinië speel. Spanne van agt lande sal in die Wêreldliga-toernooi deelneem. Suid-Afrika is saam met Engeland, Australië en Spanje in Groep A. In Groep B speel Argentinië, China, Amerika en Italië. Die ander Wêreldliga-halfeindtoernooi vind in Rotterdam, Nederland, van 13 tot 23 Junie plaas.

Nederland, die huidige Olimpiese kampioen en eerste gekeurde span ter wêreld, speel in ’n groep saam met Korea, Japan en Chili. In die ander groep in Rotterdam speel Nieu-Seeland, Duitsland, Indië en België. Vir al 16 spanne is die toernooi van groot belang, want net die vier top-spanne in elke toernooi gaan deur na die Wêreldliga-toernooi in San Miguel de Tucuman in Desember in Argentinië. Die twee toernooie is volgens die Internasionale Hokkiefederasie (FIH) ook die kwalifiserende toernooie vir die Wêreldbeker-toernooi in 2014 in Den Haag.

Die twee Vrystaters in die Protea-span is Izelle Lategan en Tanya Britz.
Die Investec Proteaspan is:
Sanani Mangisa (Suid-Gauteng), Phume Mbande (Northern Blues), Lenise Marais (KZN Coastal Raiders), Marcelle Keet (Grens), Nicolene Terblanche (NB), Illse Davids (Westelike Provinsie.), Shelley Russell (WP), Tarryn Bright (WP), Pietie Coetzee (SG), Quanita Bobbs (WP), Bernie Coston (SG), Dirkie Chamberlain (NB), Jade Mayne (WP), Tanya Britz (Vrystaat), Lilian du Plessis (NB), Izelle Lategan (FS),
Kelly Madsen (KCR),
Marsha Marescia (SG).

No posts to display