Twee verregses hou amptelik op eet in tronk

0
962

LANI FOUCHÉ

Twee van die vermeende verregses is van Maandag af van die ander verhoorafwagtende gevangenes in die Grootvlei-tronk buite Bloemfontein geskei omdat hulle amptelik op ‘n eetstaking is.
 
Johan Prinsloo en Mark Trollip het verlede week tronkowerhede amptelik ingelig van hul voorneme om van Maandag af op te hou eet. Woordvoerder vir die Vrystaatse departement van korrektiewe dienste, Puleng Mokhoane, sê hulle word nie eenkant gehou as ‘n straf nie, maar sodat personeellede hulle streng kan monitor en hulle gesondheid kan dophou. 

"Hulle word alleen in enkelselle aangehou.  As hulle tussen die ander gevangenes bly, kan hulle kos netsowel deur die ander gevangenes geëet word en dan dink ons hulle het dit self geëet.  So kan ons nooit 100% seker wees of hulle wel eetstaak nie.  Maar as hulle eenkant aangehou word, kan ons hulle van naby monitor," sê Mokhoane.

Sy sê van die tronk se kant af word alle amptelike prosedures gevolg, en dat Grootvlei-werknemers hulle steeds ontmoedig om te eet-staak. Sy sê die twee is ongelukkig oor die swak gehalte kos wat hulle in die tronk ontvang, en dat hulle meen die ondersoeke neem te lank om tot ‘n punt te kom.

Prinsloo het verlede week in ‘n brief aan OFM gesê sy grondwetlike regte word in die tronk geskend en dat sy gesondheid daagliks agteruit gaan. Hy beweer dat na afloop van die ondersoeke later vanjaar so afgemat sal wees, dat hy nie regverdig verhoor sal kan word nie.

Ondersoekbeampte Francois Laux het op sy beurt gesê hulle doen alles in hul vermoë om die uitgebreide ondersoeke voor November vanjaar af te handel.

Prinsloo en Trollip word saam met Hein Boonzaaier en Martin Keevy daarvan verdink dat hulle beplan het om top ANC-leiers tydens die party se Mangaung-kongres verlede jaar te vermoor.

Die vier moet weer op 23 Augustus saam in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn.

Keevy is intussen by die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks opgeneem nadat ‘n gesamentlike verslag van dié hospitaal verlede maand bevind het dat hy ontoerekeningsvatbaar en onverhoorbaar is.

Boonzaaier is vroeër vanjaar op R80 000 borgtog vrygelaat.