Twee verdagets in OTM-skietvoorval steeds soek

0
Twee verdagets in OTM-skietvoorval steeds soek

LANI FOUCHÉ, KARIEN JORDAAN

Die polisie is steeds op soek na twee verdagtes wat die naweek twee outomatiese tellermasjiene in Rocklands buite Bloemfontein opgeblaas en twee polisielede geskiet het. Een van die polisiemanne het kort na die voorval in die Life Rosepark-hospitaal aan sy skietwonde beswyk.

Die 52-jarige Tambisa Maliela en ‘n kollega, Sicelo Mpata, het vroeg gisteroggend, na wat verneem word, onwetend op ‘n OTM-rooftog in Rocklands afgekom.

Polisiewoordvoerder Annelie Wrensch het gesê dit blyk dat die twee polisielede nie bewus was van die rooftog wat besig was om in Masheswestraat af te speel nie.

Die rowers het die gemerkte polisievoertuig gewaar en op hulle losgebrand. Life Roseparkhospitaal se Esmarie Cronjé sê Maliela is kort na die voorval by hulle opgeneem.

"Hy (Maliela) was teater toe vir die verwydering van ‘n gedeelte van sy regterlong. Hy het erge bloeding gehad – sy toestand was kritiek. Hy was in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en geventileer, maar hy het dit nie gemaak nie."

Mpata is ook na die voorval in die hospitaal opgeneem nadat hy ‘n skietwond aan sy been opgedoen het, maar hy is kort daarna ontslaan.

Maliela het 25 jaar diens gehad en was werksaam in Openbare Orde Polisiëring. Die tweede polisielid is in die been getref. Hy is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Die bedrag geld wat gebuit is, is onbekend. Albei OTM-masjiene, ‘n Nedbank en ‘n Absabank, is beskadig. Die voorval het skuins voor 05:00 Sondagoggend plaasgevind.

No posts to display