Twee van Bfn in DigiToneel se top-16

0
677
Greta Maschke en Lucy Groenewald.

Twee Bloemfontein se leerders is onder die ATKV-DigiToneel se top-16. Hulle is Greta Maschke en Lucy Groenewald van Hoërskool Eunice.

Die Projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, JJ van Niekerk, sê die groei in gehalte van vanjaar se inskrywings spoor die projek aan om in die kreatiewe vraag te probeer voldoen. “My hart klop warm daaroor dat meer as ’n kwart van die inskrywings reeds in die eerste ronde goue toekennings behaal het. Maak nie saak watter temas ons vir hierdie tieners gooi nie, hulle skep kreatiewe karakters met interessante storielyne wat jou binne vyf minute boei.”

Volgens Van Niekerk het inskrywings ingestroom en dit het kopkrap geverg om die top-16 aan te wys. Hy voeg by dat almal wat ingeskryf het, ontvang ook persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel wat hulle kan gebruik om hul werk te verfyn. Dit is benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde. Mentors Schoemé Grobler, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en Lea Vivier is dit eens: “Ons is verstom oor die gehalte van die werk”.

Met ATKV-DigiToneel is daar geen kortpaaie deur byvoorbeeld bestaande werk af te stof en nuut aan te bied nie. Die doel met DigiToneel is om nuwe werk te skep en dit vir kamera te verfilm.

Die top-16 skaaf nou aan hul inskrywings en word dan verder deur nog twee beoordelaars gementor op hul reis na die nasionale eindronde, wat in Oktober tydens die tweede seisoen van Gekies vir die Kollig op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai sal word.

Die top-8 sal op 15 Junie aangekondig word.

Sazly Moses

sazly@mahareng.co.za