Nog nooit het Bloemfontein twee straatmylbyeenkomste twee dae agtereenvolgens beleef nie. Dit is egter presies wat vandag (Donderdag) en more in die Rosestad gaan gebeur.
* Die Hoër Meisieskool Oranje se jaarlikse Spur-straatmylbyeenkoms vind vandag op die skoolterrein van Oranje plaas. Die byeenkoms begin om 16:30 met die seuns en meisies onder 11- en onder 13-wedlope.
Die res van die program is: 16:45: seuns en meisies (onder 15), 17:00: seuns en meisies (onder 19), 17:15: senior mans en vroue, 17:30: veterane en meestersmans en -vroue. Die prysuitdeling is 17:45 en dit kos R5,00 om in te skryf.
* St. Michaelskool (SMS) vir meisies in Bloemfontein bied more óók ‘n straatmylbyeenkoms aan. Die byeenkoms maak deel uit van dié gesogte skool se 140ste-bestaansjaarfeesvieringe.
SMS bied drie wedlope aan. Die eerste wedloop (16:30) is vir graad 7-leerlinge en jonger. Dit word gevolg deur ‘n mylwedloop vir leerlinge van graad 8 – 12 (17:00). Die laaste wedloop sluit in alle senior mans en vroue, en alle meestersouderdomsgroepwedlope. Dié wedloop begin om 17:30.
Die wenners van die eerste twee genoemde SMS-wedlope (seuns en meisies) sal elk met R500,00 prysgeld huiswaarts keer.
Die mans- en vrouewenners van die laaste wedloop by SMS sal op hulle beurt elkeen R1000,00 in die sak steek.