Twee se vinnige optrede red bejaarde

0
463
Deric Style (Bloemfontein Mag Repairs), Dries Bentley, Joy Bentley en Daniel Joubert (Bloemfontein Mag Repairs) FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Wat vir Dries Bentley (64) en sy vrou, Joy Bentley (73) van Brandfort, soos ‘n gewone dag begin het, was vir Dries op die ou einde ‘n dag waarop hy by die dood omgedraai het.
Op besoek aan die Rosestad op 17 Julie, het hulle ‘n draai by Bloemfontein Mag Repairs gemaak en ‘n stukkende wiel daar gelaat om reggemaak te word terwyl hulle solank inkopies gaan doen het. Dit was toe dat Dries begin naar voel het en asof sy balans versteur was. Hy vertel, “Ek het aan my vrou gesê ek voel nie goed nie ons is terug kar toe. Ek het ‘n slukkie water geneem en toe ek beter begin voel het, besluit om terug te gaan na Bloemfontein Mag Repairs en daar te wag.” Op pad daarheen was Dries en sy vrou byna in ‘n ongeluk betrokke en hy het besef dat sy simptome vererger.
Toe hulle buite Bloemfontein Mag Repairs in Mackenziestraat stop, het Joy vinnig gaan water vra omdat Dries nie in staat was om te loop nie. Hy het erge pyn in daardie stadium ervaar. Deric Style en Daniel Joubert, eienaars van Bloemfontein Mag Repairs, het vinnig gereageer en kom help. Hulle het met Dries na Mediclinic Bloemfontein gejaag waar hy opgeneem is vir vyf dae. Na verskeie toetse en skanderings is bevind dat Dries net betyds hulp gekry het. ‘n Virus het blykbaar sy oorkanaal binnegedring en ‘n toestand veroorsaak wat sy balans geaffekteer het.
Volgens die Bentleys kon dit baie erger uitgedraai het as dit nie vir die vinnige optrede van die personeel en eienaars van Bloemfontein Mag Repairs was nie. “Bloemfontein het regtig goeie mense. Ek wil graag dankie sê aan almal by Bloemfontein Mag Repairs en Mediclinic Bloemfontein vir hul uitstekende diens en hulp,” het Dries gesê.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za