Twee mense behandel vir H1N1-virus in Bloemfontein

0
693

CHRISTAL-LIZE MULLER

Die Mediclinic Bloemfontein het bevestig twee pasiënte word in die hospitaal behandel vir die H1N1-virus. Hospitaalwoordvoerder Reinette Oosthuizen sê egter daar is geen bevestigde gevalle waar mense onlangs in die hospitaal dood is weens die varkgriepvirus nie. Intussen sê die kliniese bestuurder van die hospitaal, dr. Franco Erasmus, die H1N1-virus word as een van die normale seisoenale griepvirusse beskou.

"Dit het nie dieselfde impak as ‘n paar jaar gelede nie. Die entstof wat gebruik word maak voorsiening vir die inenting van die H1N1-virus."

Hy stel mense gerus dat daar geen rede tot kommer is nie, want die H1N1-virus "gedra hom dieselfde as al die ander siesoenale griepvirusse." Dit word op dieselfde manier hanteer.

Volgens hom het die H1N1-virus dieselfde simptome as normale seisoenale griepvirusse. Dit sluit in ‘n seer keel, ‘n loopneus en spierpyn. Hy sê mense met die H1N1-virus kan potensieël sieker word, maar ander griepvirusse kan dit took veroorsaak. Erasmus sê die twee pasiënte wat behandel word, is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal.